Vlieënier se vriend blameer die weer vir fratsongeluk
“Die hemel was ń rustige plek tot die sewende toe. Hy hou vir hulle besig hoor.”
“Hy was my kompas en die bloed in my are.”
Só het me. Marinda Anderson haar man, die vlieënier wat verlede Dinsdag by Bronkhorstspruit in wat as ‘n fratsongeluk bestempel word dood is, beskryf.
Mnr. Hercu Anderson (49), ‘n lid van die Oosrand Vliegklub by Springs-vliegveld, se Evektor Sportstar-vliegtuig het net ná 16:00 op 7 Desember by Bronkhorstspruitdam neergestort.
Mnr. Kirsten Potgieter, ‘n vriend van 34 jaar, het vertel dat hulle, soos gereeld voorheen, dié dag saam gaan vlieg het.
Hy meen skielike onguur weer het tot sy vriend se dood gelei.
“Ek weet vir seker dit was die weer.
“Dit was die wind wat sy vliegtuig se vlerk afgeruk het. Ek het ook die turbulensie gevoel. Die wind het byna my vliegtuig omgegooi. Ek moes veg om regop te bly.

“Hercu het die ergste deel van die wind gekry. Elke keer as ek wou draai, het dit gevoel of die wind die vliegtuig wou omgooi. Ek het dieper en dieper in die wind ingevlieg en ek moes so liggies draai totdat ek kon uitkom,” het mnr. Potgieter vertel.
Volgens hom, was dit vreemd dat mnr. Anderson dié dag nie ‘n passasier by hom in die vliegtuig wou hê nie.
“Hercu was altyd so gretig om ‘n passasier op te vat, maar hy wou Dinsdag alleen gevlieg het.”
Die lug was oop, maar skaars 15 minute later het die ongeluk gebeur.
“Hercu het verby my gevlieg en was sowat 3km voor my.
“Toe hy oor die damwal gedraai het, was ek nog op pad. Aan die noorde van die dam is ‘n heuweltjie.
“Ons het gereeld oor dié heuwel en dan oor die damwal gevlieg voor ons teruggevlieg het Springs toe.”
Mnr. Potgieter het gesê sy vriend was al oor die damwal toe hy (Potgieter) nog in die ooste van die dam was.

“Toe ons die anderkant van die heuwel bereik het, het my passasier iets uit die lug gesien val.
“Hy het gesê dit lyk soos die regtervlerk van Hercu se vliegtuig wat afgebreek het.
“Ek het oor die radio geroep en hy was net weg. Ek het enkele minute voor dit nog met hom oor die radio gepraat.”
Die passasier het aan mnr. Potgieter beduie waar die voorwerp geval het en hulle wou daarheen vlieg, maar toe mnr. Potgieter oor die rif gekyk het, het hy net golwe oor die dam gewaar.
“Die wind het skielik opgekom. Ek het die golwe uit die lug gesien. Dit is hoe erg dit was. Ek dink omdat ek van die noorde gekom het, het die rif my dalk beskerm dat die wind nie by my kon uitkom nie.
“Toe ek egter in daardie rigting wou vlieg, het ek reguit in turbulensie ingevlieg.”
Mnr. Potgieter het op daardie oomblik net gekonsentreer om sy vliegtuig onder beheer te kry en was genoodsaak om by die Kitty Hawk-vliegveld te land.
Hy het dadelik begin rondbel, terwyl ‘n ander vriend, mnr. Robbert Garsman, die reddingseenheid gekontak het en ‘n ondersoek van stapel gestuur het.
“Toe hoor ons daar was wel ‘n ongeluk, maar ons het nie geweet wie nie. Ek het later die registrasienommer deurgegee en toe vind ons uit dit is Hercu se vliegtuig. Mens weet nie wat om te dink nie.”

Die nuus is mettertyd aan mnr. Potgieter deur ‘n ander vriend oorgedra wat met die reddingseenheid kontak gehad het.
Die vliegtuig het naby Baja Dam se kampeerplek by Bronkhorstbaai geval en die vlerk en wrakstukke is by die kampterrein gevind.
‘n Vrou wat die ongeluk vanaf haar stoep sien gebeur het, het dit beaam dat die vlerk afgebreek het.
Die vliegtuig waarmee mnr. Anderson gevlieg het, was sy trots.
Hy het die vliegtuig vanjaar gekoop juis omdat die stabiliteit daarop beter as op sy vorige vliegtuie was.
“Dit was asof die vliegtuig iets vir sy siel gedoen het. Ek onthou toe ek een keer saam met hom in sy vliegtuig gevlieg het, was dit asof daar net sulke oopte was. Daar was ruimte om die wêreld te kan sien.”
Mnr. Potgieter het mnr. Anderson as ‘n vreeslose mens wat voluit geleef het, beskryf.
Maar het bygevoeg dat mnr. Anderson nie ‘n kansvatter was nie.
Hy was ‘n ervare vlieënier wat 400 ure die afgelope drie jaar gevlieg het en selfs nog in Oktober ‘n vlug na die Kalahari onderneem het.
“Sy seun het altyd gesê dat Hercu een van die sterkste ouens is wat hy ken.”
Mnr. Anderson het daarvan gehou om mense te mentor en het presies geweet hoe om met mense te werk.
“As ek onseker was in moeilike situasies,het hy altyd raad gehad. Hy het net ‘n natuurlike aanvoeling vir mense gehad.”
Hy kon mense se intensies opsom en hy was raadgewer, klankbord, mentor en vriend vir sy binnekring.
Mnr. Anderson was ‘n lewenslustige mens en ‘n suksesvolle sakeman.
“Hy was die ‘life of the party’-soort mens.”
Mnr. Potgieter het gesê vlieg gaan nie meer dieselfde wees nie.
“Die lug sal anders voel en hy sal in die uitsigte wees,” mnr. Potgieter gesê.
“Ek het sy nommer altyd uit my kop geken. Ons was baie stout saam. Daar was verskeie stories wat tussen ons gedeel is.
“As ek iemand moet uitsonder wat altyd gekyk het of ek okay is, dan was dit Hercu,” het mnr. Potgieter vertel.
Mnr. Edward Wilson, ook ‘n goeie vriend, het gesê: “Die hemel was ‘n rustige plek tot die 7de Desember. Hy hou vir hulle besig hoor.”
Mnr. Anderson laat sy vrou, drie seuns en sy suster agter.



