Het jy dit in jou om ‘n liefdesverhaal uit die boonste rakke te skryf?
Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV)-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit in samewerking met Lapa en NB Uitgewers en Malan Media bied van Donderdag 5 tot Saterdag 7 September ‘n slypskool in die skryf van liefdesverhale aan.
Hierdie slypskool, van drie dae, op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit is ‘n praktiese slypskool vir enigiemand wat ‘n liefdesverhaal wil skryf. Die inskrywingsgeld daarvoor beloop R2 500 per persoon.
DiĆ© bedrag dek ook deelverblyf in selfsorgeenhede by die PUK Astro Villa, middagetes, oggend- en middagpouseverversings en ‘n onthaal op Vrydagaand 6 September. ‘n Beperkte hoeveelheid verblyfplekke is beskikbaar (skakel vir meer besonderhede).
Voornemende kursusgangers moet ‘n kortverhaal (ongeveer 1 500 woorde) met ‘n romantiese strekking of ‘n eerste hoofstuk (nie meer as 3 000 woorde nie) van ‘n liefdesverhaal voor die sluitingsdatum vir inskrywing op Vrydag 23 Augustus aanstuur na Kobie.VanAswegen@nwu.ac.za.
Bekende skrywers Sophia Kapp, Amelia Strydom, Anna Penzhorn en Magdaleen Walters, asook uitgewers Charlene Hougaard, Hester Carstens en Daleen Malan, tesame met personeel van die ATKV-Skryfskool gaan as aanbieders optree en fokus op die liefdesverhaal.
Wil jy die kursus bywoon? Skakel dan dadelik vir Kobie van Aswegen by 018 299 1783, of per e-pos na Kobie.VanAswegen@nwu.ac.za.



