60ste huweliksherdenking op 18 Julie
"Met genade van bo" is die Van Niekerks al 60 jaar getroud, en ewe gelukkig.

“Ek was nog op die skoolbanke toe hy by ons kom loseer het,” vertel Joey van Niekerk oor haar man, met wie sy op 18 Julie 60 huweliksjare vier.
Die Van Niekerks het hul kinders en goeie vriende op Saterdag 20 Julie na die Nederduits Hervormde Kerk in Discovery genooi om hul diamantherdenking te kom vier.
Joey het in Booysens gewoon toe haar man uit Groot Marico by haar ouers kom loseer het. Hy was omtrent 20 en sy nog in skool. Hulle is ongeveer vyf jaar later, in 1953, as die Van Niekerks verenig.
“Ons is in die Hervormende Kerk Turffontein getroud,” vertel Joey, en verduidelik dat hulle twee seuns en ‘n laatlammetjie- dogter het. Hulle spog nou met drie kleindogters, drie kleinseuns en twee agterkleinseuns.
“Ek en hy het minstens een of twee keer ‘n maand gaan dans.”
Volgens Joey hou ‘n huwelik so lank “met genade van Bo”. Sy haal graag die Engelse spreekwoord aan van, “those who pray together, stay together”.
Joey in ‘n deftige pers pakkie en blommetjies op die lapel is saam met haar man by die kerk verwelkom waarna daar met groot joligheid fees gevier is.