Local newsNews

Die ROPF deel planne om dienslewering te verbeter

"Sodra die inperkingsmaatreëls opgehef word, sal 'n opvolgbyeenkoms plaasvind waartydens rolspelers vanuit al die gemeenskappe sal vergader om aksiespanne saam te stel met die oog op dienslewering op verskeie gebiede"

Die bekende uitdrukking: ‘Dit is saliger om te gee as om te ontvang’ was die dryfveer agter die drie omgee-instansies wat op 28 Mei kragte saamgesnoer het om behoeftige gemeenskappe te ondersteun.

Die drie instansies, die Roodepoort Ouer Persone Forum (ROPF), Living Waters of Hope, en Gryskrag het die dag by Klein Helderkruin Sentrum bymekaar gekom.Sjaas Reyneke, die ROPF Sekretaris, het verduidelik, “Met die samewerking van doktor Karel Prinsloo, die hoofdirekteur van Plus 50, en Hannelie Clasen, die produksiebestuurder van Met ‘n huppel in die stap is die historiese geleentheid deur die TV-span vir uitsending opgeneem”.

Die dag is met die eerste item op die agenda afgeskop, en die gehoor het aandagtig na die voordrag van dominee Barry van Rensburg geluister. Die gedig wat hy voorgedra het, is spesiaal vir die geleentheid geskryf, en het oor die ouer persoon gehandel.

Daarna was dit Willie van der Schyf, die waarnemende voorsitter van die ROPF se beurt en hy het kortliks verwys na die doel van die samekoms en die beplanning om aksiegroepe uit verskillende sektore van die samelewing op die been te bring.

Sjaas het bygevoeg, “Dit het die geleentheid aan twee woordvoerders van Klein Helderkruin, Kathy du Plessis en Valerie Rautenbach, gebied om die administratiewe en ander behoeftes van hul kompleks uit te lig”.

Dokter Alf Levin van Living Waters of Hope het vertel van ‘n verslag oor suksesse wat reeds behaal is om mense in nood by te staan, en die dag is afgesluit met verslag van Dodds Pringle, die plaaslike verteenwoordiger van Gryskrag, oor hul vordering en bydraes wat al gelewer is.

Sjaas het met die volgende afgesluit, “Sodra die inperkingsmaatreëls opgehef word, sal ‘n opvolgbyeenkoms plaasvind waartydens rolspelers vanuit al die gemeenskappe sal vergader om aksiespanne saam te stel met die oog op dienslewering op verskeie gebiede”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button