Bekende sanger Jo Black vra in een van sy bekende liedjies ‘Wat is Hoop?’. Dan antwoord hy self deur te sê ‘Dit is die wens dat die son weer opkom, dit is dat vrede by ons uitkom’.
In ‘n poging weer vir hul kinders en die gemeenskap hoop te gee het Hoërskool Florida se Graad 9-graadhoof, Di Woolley dit goed gedink om die Graad 9’s aan die landwye ‘Bome van hoop’-inisiatief te laat deelneem.

“’n Paar mense in Lichtenburg bome met geel lap versier, want geel verteenwoordig hoop. Veral nou in die winter het ons nou meer as ooit tevore hoop nodig – nie net fisies nie, maar ook emosioneel,” het Le-Anke de Lange geskryf. Sy is deel van die inisiatief.
“Elke blaar wat val verteenwoordig ‘n traan wat vloei vir die mense wat iemand aan die dood afgestaan het, of ‘n traan wat God smeek om iemand se lewe te spaar; maar met elke blaar wat val en traan wat vloei, is daar hoop.”
Toe die skole op Maandag, 26 Julie heropen het, het ‘n aantal opgewonde Graad 9-leerders saam met hul graadhoof die bome oorkant die skool se hoofingang met geel lap versier.
Volgens Di het die leerders dit baie geniet, veral omdat dit vir hulle die geleentheid geskep het om iets goed en positief vir die gemeenskap te doen.
“Ons wil graag hê dat die mense die positiewe ook moet sien. Alhoewel Covid-19 oral om ons is, is dit belangrik om nie net op die negatiewe te fokus nie. Hoop is so sterk, en ons moet daaraan vasklou,” het sy gesê.

Sy nooi graag die gemeenskap om deel te wees van die inisiatief deur ‘n geel lap om ‘n boom of selfs om ‘n lamppaal te bind sodat mense dit kan raaksien.
“Ons is verantwoordelik om vir ons kinders hoop te gee. Hulle was tog nog altyd ons liggies van hoop. Vandag vestig ek my hoop op hulle,” het Graad 9-graadvoog, Roné Potgieter ten slotte vertel.



