NewsSchools

Havies help vierpootbegunstigdes

Elke leier moes 'n bepaalde klas motiveer om hondekos in te samel.

Leerders van Laerskool Dr Havinga het onlangs hul harte oopgemaak toe hulle sakke en sakke hondekos aan The 9th Day Animal Rescue in Krugersdorp geskenk het. By dié skuiling word diere gerehabiliteer en nuwe tuistes gegee.

Volgens leiervoog Elria Lennon was dit die leierraad se tweede projek vir die jaar.

“Ons pak elke kwartaal ‘n projek ten bate van die gemeenskap aan. Ons kyk gewoonlik waar die behoefte lê, en loods ‘n projek om te help waar ons kan,” het sy vertel.

Elke Havie het dan die geleentheid om deel te wees van ‘n projek wat hulle in staat stel om ander te help. Die kwartaal wat verby is, was geen uitsondering nie toe ‘n verheugde Charmaine Booysens, stigter van The 9th Day op Woensdag, 28 Julie die vrag hondekos ontvang het.

Alhoewel die leiergroep gewoonlik help om die skenkings op en af te laai, kon hul ongelukkig nie die keer hul vierpootbegunstigdes ontmoet nie as gevolg van Covid-19.

Een van die wenklasse is trots op hul harde werk. Foto: Ingestuur.

Elke leier moes ‘n bepaalde klas motiveer om hondekos in te samel. Die junior wenklas het ‘n totaal van 39 kilogram kos ingesamel, en die senior wenklas 35 kilogram. Dié twee wenklasse is natuurlik beloon met welverdiende verrassingspakkies.

Talle Havies het saamgewerk aan dié projek. Foto: Ingestuur.

“Ons is ongelooflik geseënd om dit elke kwartaal te kan doen. Die leiers was toegewyd van die begin af; toe hulle hoor van dié kwartaal se projek het hulle dit weereens heelhartig aangepak. Ons het ook baie ouers met oop harte, en ons is verskriklik dankbaar vir hulle en elkeen wat tot die projek bygedra het,” het Elria vertel.

Een van die wenklasse is trots op hul harde werk. Foto: Ingestuur.

Die leiergroep sien uit na hul projek vir die derde kwartaal wat ten bate van die Luipaardsvlei Tehuis vir Bejaardes sal wees.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button