Latest SportLocal newsNewsSport

Wesrand Stoeiers die ene goud na die SA-kampioenskappe

Klub wen 29 medaljes uit 41 inskrywings

Vasberadenheid op die mat lei tot blywende herinneringe aan medaljes op die podium.

Wesrand Stoei Gimnasium het met ‘n indrukwekkende medalje-oes van die afgelope SA Kampioenskappe teruggekeer. Dié stoeiers wat Sentraal-Gauteng van 6 tot 9 Oktober tydens die Pretoria-Oos-byeenkoms verteenwoordig het, het ‘n massiewe 29 medaljes ingepalm. Daar was 41 inskrywings, wat beteken het dat byna elke keer as ‘n klublid deelgeneem het, ‘n medalje verdien is.

Wesrand Stoeiers kry afrigting. Foto: Jarryd Westerdale.

Die klub is nou goed by Laerskool Roodekrans gevestig en spog tans het 13 Suid-Afrikaanse kampioene, waarvan ses vir die eerste keer dié titel verdien het. Die volgehoue prestasies wat in al die ouderdomsgroepe behaal word, getuig van die kwaliteitafrigting wat die stoeiers van die Wesrand Stoei Gimnasium ontvang. Afrigter Juan Nel is reeds drie en ‘n half dekades by die sport betrokke, en het self verskeie Suid-Afrikaanse titels agter sy naam.

Wesrand Stoeiers oefen. Foto: Jarryd Westerdale.

“As hulle op die mat stap, weet hulle dat hulle hier is om te leer en te verbeter. Dankie aan die ouers dat julle hulle altyd ondersteun. Ons is almal baie trots op hul prestasies en weet dat as hulle toegewyd bly, daar nog baie hoogtepunte sal wees,” het Juan gesê, wat self sy meesterkategorie gewen het.

Vyf van die ses nuwe kampioene. Foto: Jarryd Westerdale.

Die toekoms is blink, want Juan het ‘n ooreenkoms aangegaan om ‘n tweede stoeiakademie te open wat op die stoeiers van Krugersdorp gemik is. Die nuwe stoeiakademie sal by Laerskool Krugersdorp-Noord wees, wat die Wesrand Stoei-handelsmerk ‘n groter reikwydte gee.

Related Articles

Back to top button