Havies Haasbekkies skitter op sportveld
Alhoewel al die lyfies op die veld klein was, was die gees groot.
Op Saterdag, 29 Januarie het daar groot atletiek op Laerskool Dr Havinga se sportvelde plaasgevind. Die skool het vir hul Graad RRR- en Graad RR-leerders hul eie spesiale atletiekbyeenkoms aangebied aangesien hulle nie by die skool se interhuis betrokke was nie.

Alhoewel al die lyfies op die veld klein was, was die gees groot. Volgens Havies se Grondslagfase Departementshoof, Lizelle Kies was hierdie unieke atletiekbyeenkoms ‘n eerste vir hul Haasbekkie-kleuterskool en dit gaan voortaan beslis ‘n hoogtepunt op hul jaarlikse kalender wees.
Die byeenkoms het afgeskop met ‘n optog deur die klasse, vergesel deur die leiers en grondslagfasepersoneel, waarna die klank van tradisionele krete oor die veld weergalm het.
Jamblikke, visblikke en Rom-tom-tom was twee van ‘n paar liedjies wat die leerders gesing het. Hulle is natuurlik luid toegejuig deur die Graad 7-leiers en ouergemeenskap.

Daarna het die program begin en die eerste item was die 40m hekkies, wat met groot erns deur die verskillende klasse aangepak is. Hulle het daarna aanbeweeg na die velditems waar leerders deelgeneem het aan hoogspring, verspring, gewigstoot met ‘n boontjiesakkie, spiesgooi met ‘n verestoffer, en diskusgooi met ‘n CD-skyf.
Daar was selfs ‘n spesiale fotohoekie waar elke ouer na hartelus kon foto’s neem van hul olimpiese Havie-sterre en waar die leerders hul dors kon les.

Die oggend is afgesluit met ‘n 40m naelloop waar pappas, mammas en onderwysers hul slag kon wys. Die Haasbekkies het hulle natuurlik luidkeels aangemoedig.
“Ons is ongelooflik dankbaar vir die voorreg om met elkeen van hierdie kinders te werk; vir die Havies is elkeen van hulle kosbaar en ons sal altyd alles in die stryd werp om vir hierdie kinders die beste moontlike opvoeding en onderrig by #onsskool te bied,” het Lizelle ten slotte vertel.
“Hier by die Havies is die kinders prioriteit en stel ons hul belange eerste. Ons is geseënd met ‘n personeelkorps wat altyd meer as hul deel doen vir elke kind. Hierdie dag was vir ons net so lekker as vir die kleintjies! Volgende jaar pak ons dit beslis weer aan.”



