Horison-inwoner, Oom Martin Smith, het op 25 Februarie die allemintige mylpaal van 101 jare behaal, en alhoewel hy glad nie van partytjies hou nie, hom gate uit geniet tydens die klein vieringsbyeenkoms wat deur vriende, familie, en kerkgenote vir hom gehou is.
Oom Martin, gebore in Wolmarandsstad op 25 Februarie 1924, vertel dat hy na skool aanvanklik gesukkel het om werk te kry aangesien Wolmaransstad in daardie jare maar hoofsaaklik net vir mielieplase en diamantmyne bekend was.
“Ek het toevallig gehoor van ‘n betrekking in Johannesburg op die spoorweë,” sê hy. “Dit was al werk wat mens daardie tyd kon kry, dus trek ek toe saam met ‘n vriend in Roodepoort in, en so het my loopbaan begin.”
Oom Martin is aanvanklik as leerling-stasievoorman aangestel en moes na ‘n klompie jare – hy onthou nie meer so lekker presies hoeveel nie – verder by ‘n technikon gaan leer om vir bevordering te kon kwalifiseer.

Hy ontmoet sy toekomstige vrou kort na sy aankoms in Roodepoort, en na hul bruilof het hulle saam twee kinders, ‘n seun en ‘n dogter.
“Ons het goed in Roodepoort geaard,” skerts Oom Martin. “Ek het my in my eerste liefde, skyfskiet, ingeleef en vele kompetisies gewen.
“Ek was ‘n A-klas skut,” voeg hy trots by.
In ongeveer 1965 koop Oom Martin sy erf in Schultz Straat, Horison, en kon hy eenvoudig nie die ‘buitensporige’ sesduised pond kleinkry wat die destydse boukontrakteurs hom wou vra om ‘n huis op te rig nie.
“Dit was in daardie jare ‘n fortuin,” sê hy. “Ek gaan sien toe ‘n beslagoplegger-vriend en vra hom om vir my uit te werk watter materiale en hoeveel daarvan ek sou benodig om die bouwerk self te doen.”
Oor die bouery is Oom Martin dit eens, “Self bou is net twee woorde, maar dis ‘n hele woordeboek vol probleme.
“Gelukkig het ek byna tweeduisend pond gespaar, en hy staan steeds sonder ‘n enkele kraak.”
Die huisbou neem ongeveer 10 maande en is betyds klaar vir die geboorte van sy eersteling, Martin Jnr in 1967.
Sy kinders gaan skool, eers by die plaaslike laerskool en daarna by Hoërskool Roodepoort. Tydens daardie jare is Oom Martin, toe ‘n gesiene man by die werk, in die kerk, en as Roodepoort-sekretaris van die destydse Nasionale Party, so te sê ingemessel langs die sportvelde waar hy luidkeels en trots sy kinders ondersteun het.
Hy onderhou sy loopbaan by die spoorweg en behalwe vir sy werk in die politieke arena en natuurlik as ywerige skut, hou hy homself besig in sy pragtige tuin.
“Dis nou nie meer so mooi nie,” sug hy. “Ek is darem al ‘n hele paar dae oud.”



