VLU hou streekskonferensie
Die Roodepoort VLU het vir die organisasie se jaarlikse streekskonferensie gasheer gespeel.
Die Roodepoort-tak van die Vroue Landbou-unie (VLU) het op 7 Maart die jaarlikse streekskonferensie van die VLU Witwatersrand aangebied.
Volgens Malinda Raats, voorsitter van die Roodepoort VLU, was die funksie ’n groot sukses.
“Meer as 100 gaste het hierdie oggend die Hervormde Kerk in Horison se banke volgesit,” sê sy.
“Ds Gerhard Nel het die verrigtinge op gepaste wyse met skriflesing en gebed geopen, waarna Maria West ons leuse met baie humor voorgedra het.”

Een van die lede se dogters, Lizette van Aardt, het vir vermaak gesorg en die gehoor met haar pragtige sangstem bekoor.
Malinda voeg by dat die verskillende VLU-takke deur die jaar verskeie kompetisies aanbied, insluitend hekel, brei, naaldwerk, blommerangskikking, handvlyt en fotografie.


“Die wenners van al hierdie kompetisies word tydens die jaarlikse konferensie aangekondig.”
Sy verduidelik verder dat die VLU se fokus oor die jare verskuif het om hoofsaaklik op liefdadigheid en barmhartigheid te konsentreer.


“Ons tema vir die komende jaar is ‘Wees die Verskil’, en vir ons jaarlikse projek is daar besluit om veral ondersteuning aan gestremdes in ons plaaslike gemeenskappe te bied.”
Lees ook: Ons Plek Horison groet voorsitter



