NG Culembeeck se potjiekoskompetisie 'n liplekker sukses
Die potjiekoskompetisie is ruim deur die gemeente en Witpoortjie-inwoners ondersteun.
NG Culembeeck-gemeente het Saterdag, 11 April, hul jaarlikse potjiekoskompetisie aangebied en met ‘n merkwaardige 21 inskrywings gespog.
Volgens leraar Lamè Faassen, was die jaarlikse kompetisie eers ‘n inisiatief van die NG Mindalore, wat hulle na die samesmelting van gemeentes nou as ‘n NG Culembeeck-tradisie aangeneem het.
Lees ook: Roodies presteer by SAs

“Ons kompetisie het fantastiese ondersteuning vanuit die gemeente geniet,” sê Lamè, wat saam met die jeug hard gewerk het aan hulle inskrywing, ‘n beesstertpot.
“Fantastiese pryse was te wen, en kompetisie is straf, met verlede jaar se wenner, Ben Horak, wat weereens vol vertroue was dat hy hierdie jaar met die wenpot gaan wegstap.”

Volgens Kriek Fourie, een van die organiseerders van hierdie jaar se kompetisie, was die afvalpot vir hom een van hierdie jaar se sterkste inskrywings.
“Dit gaan vir my meer oor die opstaan as die afval,” grap hy.
Die dag was ‘n enorme sukses met hope vermaak vir jonk en oud.

“Die ruim ondersteuning vanuit die gemeenskap is regtig ‘n riem onder die hart,” sê Lamè wat byvoeg dat meer as 200 kaartjies vir die potjiekoskompetisie verkoop is.



