Klerehulp vir Witpoortjie gemeenskap
Die liefdadigheidsorganisasie Ouma Kom Help deel op 22 Augustus klere in Witpoortjie uit.
Sedert 2022 wy Sarah van Rensburg haar lewe daaraan om swaarkry in haar gemeenskap te verlig.
Deur haar niewinsgewende organisasie met die gepaste naam, Ouma Kom Help, doen sy tussen drie en vier jaarlikse donasieveldtogte waar sy tweedehandse klere aan minderbehoeftiges uitdeel.
“Die nood is so groot in ons plaaslike gemeenskap,” sê sy. “Almal trek maar swaar en ek voel genoop om te help waar ek kan.”
Sarah sê dat haar uitreike hoofsaaklik op Witpoortjie gemik is, maar nie tot daar beperk is nie.
“Ek het ook heelwat bejaarde begunstigdes regoor die Wes-Rand aan wie ek weekliks kospakkies aflewer.
“Alhoewel ek almal probeer help is dit maar die oumensies en kinders op wie ek fokus.
“Eintlik help ek enigiemand wat hulp nodig het,” sê sy. “My leuse is ‘Minder oordeel en meer omgee’.
“Nood is nie beperk tot net sekere mense nie; dus is my omgee ook nie.”
Sarah vertel dat sy deur die loop van elke jaar uit verskillende oorde klere, komberse, en ander goedere ontvang.
“Ek help my gereelde begunstigdes gedurende die jaar, maar ek ontvang ook baie addissionele goed wat ek bymekaarmaak totdat daar genoeg is vir ‘n uitreik.”
Sarah se volgende uitreik vind op Saterdag, 22 Augustus, op die hoeke van Jan van Rooyenstraat en Generaal Pienaarlaan plaas.
“Ek begin om 13:00, en ek raai mense aan om nie laat te wees nie. Daar is beperkte hoeveelhede klere, dus is dit belangrik om vroeg te kom, aangesien ek nie enigiets kan uithou nie.”
Vir meer inligting, kontak Sarah by 073 214 5181.



