Havie-leerder ontvang spesiale boodskap vanaf sy Springbokheld
Dit was 'n opdrag wat die die graad sewes in hul Afrikaansklas moes voltooi, en toe antwoord die Springbokkaptein hom!
Themba Dengura (13) het nooit gedink dat die gedig wat hy as Afrikaanse opdrag geskryf vir hom soveel vreugde sou bring nie.
Dié graad sewe leerder van Laerskool Dr Havinga het vertel dat hulle die opdrag ontvang het om ‘n gedig te skryf oor hul rolmodel of iemand wat hulle inspireer, “Ek was baie opgewonde oor hierdie opdrag en het dadelik besluit dat ek iets wou skryf wat die Bokke en Siya sou motiveer. Ek het op Siya besluit omdat hy my rolmodel is. Hy is ‘n goeie leier wat sy span dra en motiveer op die veld, en hy speel ook uitstekende rugby.”
Themba het op 27 Oktober, tydens die skool se groot Bok Vrydagvieringe sy gedig aan die skool voorgelees.
Hierdie voorlesing was op video vasgevang, en voordat jy kon sê ‘Springbokke’ het die video soos ‘n veldbrand op Facebook versprei, en het dit ook by die Springbokkaptein, Siya Kolisi uitgekom.
Themba kon nie sy ore glo toe hy hoor dat Siya vir hom ‘n videoboodskap teruggestuur het nie, en toe hy die video met sy eie oë op een van die onderwysers se fone sien, kon jy nie die glimlag van sy gesig af kry nie.
“Ek was baie emosioneel in daardie oomblik en het gevoel of ek wou huil. Dit is amazing vir my dat die hele Suid-Afrika die video so gedeel het dat dit by Siya uitgekom het. En Siya het, terwyl hy in Frankryk besig was met die wêreldbeker, tyd gevat om vir my ‘n boodskap terug te stuur!” het Themba met ‘n groot glimlag vertel.
Hy het bygevoeg dat hulle die finaal by sy tannie se huis gekyk het, “Tydens die wedstryd het my bloeddruk gestyg en my hart het amper gaan staan toe die televisieskeidsregter moes besluit of die All Blacks ‘n drie gedruk het of nie, maar, toe die eindfluitjie blaas, was ek so bly die Bokke het gewen, ek het sommer in my tannie-hulle se swembad gespring!”
Themba het afgesluit, “Dit is ‘n groot droom van my om ook vir die Springbokke te speel, en om ook eendag vir ‘n wêreldbekerspan te kan uitdraf. Ek het nie my eie Springboktrui nie, maar sal hard werk om eendag ook een te kan dra.”



