Passie en deelname die belangrikste by mini-sportdag
Laerskool Muldersdrif se mini-sportdag het weereens gewys dat deelname en passie veel belangriker is as net die telbord.
Byna 100 wedstryde en meer as 1 000 jong seuns- en dogterspelers het hul voete gevind op die rugbyvelde en netbalbane tydens Laerskool Muldersdrif se jaarlikse mini-sportdag.
Tau-rugbyorganiseerder by Mullies, Mathew du Toit, het vertel dat 916 leerders op die dag deelgeneem het. ‘n Totaal van 102 wedstryde is gespeel, waarvan 57 rugby- en 45 netbalwedstryde was. Hy skat dat sowat 4 000 mense die geleentheid bygewoon het.

Hy het bygevoeg dat die skole wat aan die sportdag deelgeneem het, onder andere Laerskool Helderkruin, Muldersdrif, Protearif, Fontainebleau, Krugersdorp-Noord, Monument Primary en Trinityhouse Randpark Ridge insluit.
“Honderde jong sportsterre het hul liefde vir hierdie sportsoorte ontdek. Tydens die sportdag word geen tellings gehou nie. Die fokus val eerder op die bevordering van sportliefde, deelname en vaardigheidsontwikkeling, eerder as op wen of verloor,” het hy gesê.
“Een van die hoogtepunte was die teenwoordigheid van Rynardt Notnagel van die Goue Leeus Rugbyunie, wat persoonlik medaljes aan elke speler van die wedstryd oorhandig het.
“Verder was dit inspirerend om te sien hoe die personeel van Laerskool Muldersdrif saamspan en mekaar ondersteun het om die dag ‘n groot sukses te maak. Ons gee ook alle eer aan die Here, wat ons kinders en personeel beskerm en geseën het tydens hierdie spesiale geleentheid,” het Mathew afgesluit.



