Florries groet geliefde leerder
Hoërskool Florida moes hartseer afskeid neem van een van hul geliefde leerders.
Die skoolgemeenskap van Hoërskool Florida is in rou gedompel ná die ontydige afsterwe van die 16-jarige leerder Ru-Jacques Coetzee vroeër vandeesmaand.
Volgens die skool se woordvoerder, Mornè Hanekom, was Ru-Jacques wyd geliefd onder sowel leerders as onderwysers.
“Ru-Jacques was akademies sterk, maar dit was op die rugbyveld waar sy passie en talent die duidelikste na vore gekom het,” sê Hanekom.
Ru-Jacques se ma, Candice Nel, sê sy sukkel steeds om sy afsterwe te verwerk.
“Hoe neem ’n ma afskeid van haar kind? Hoe sit jy 16 jaar se liefde, herinneringe, lag, trots, drukkies, rugbywedstryde en spesiale oomblikke op papier?” vra sy.

Volgens Candice het Ru-Jacques ’n besondere plek in haar hart gevul.
“Hy was uniek. Daar was niemand soos hy nie en daar sal nooit weer iemand soos hy wees nie.
“Hy het die lewe voluit geleef en alles gegee in wat hy aangepak het, of dit atletiek, hokkie, krieket of rugby was.”
Hoewel Ru-Jacques ’n talentvolle sportman was, sê Candice rugby was sy grootste passie.
“Hy het rugby geëet, geslaap en asemgehaal. Hy kon ure lank wedstryde kyk, spelers ontleed en die spel bestudeer.
“Rugby was soveel meer as net ’n sport vir hom; dit was deel van sy DNS.”
Candice sê sy sal altyd haar seun se vasberadenheid onthou.
“Hy het nooit vir ’n uitdaging teruggestaan nie. Hy was altyd bereid om die harde werk in te sit om dit wat vir hom belangrik was, te bereik.

“Geen opponent was ooit te groot nie en geen takel was ooit te hard nie. Hy het altyd sy beste gegee en met sy hele hart gespeel.
“Ek onthou hoe trots hy was toe sy rugbyafrigters hom die bynaam ‘Hybrid’ gegee het omdat hy so ’n veelsydige speler was.
“Maar meer as sy sportprestasies, sal ek altyd sy hart onthou.
“Ek is ongelooflik dankbaar vir die mens wat hy besig was om te word, asook vir sy liefde vir God en die geloof wat hy met soveel opregtheid uitgeleef het.”



