Kritiek Aster – Roepman (2011) Paul Eilers
Olivetti 45 — Hoe kan ek verduidelik watse impak filmstudies op my literêre lewe gehad het? Ek voel al hoe meer dat dit noodsaaklik is vir enige persoon wat die skrywer en die kuns van skryf beter wil leer verstaan. So ook voel ek dat Roepman (2011) die ideale filmstudie in hoërskole sou wees. Die …

Olivetti 45 — Hoe kan ek verduidelik watse impak filmstudies op my literêre lewe gehad het? Ek voel al hoe meer dat dit noodsaaklik is vir enige persoon wat die skrywer en die kuns van skryf beter wil leer verstaan.
So ook voel ek dat Roepman (2011) die ideale filmstudie in hoërskole sou wees.
Die generasie voor my het Kringe in ‘n Bos en soortgelyke ouer romans bestudeer.
In my hoërskoolloopbaan het ons in Afrikaans onderskeidelik Skilpoppe en Die Kwart-voor-sewe Lelie as romans bestudeer, en Die Rebellie van Lafras Verwey en Mis as dramastudies behandel.
Maar in Engels kon ons flieks soos 10 Things I Hate About You (1999) en Juno (2007) in skooltyd bestudeer én geniet. Hoekom het Afrikaans-onnies nie flieks gebruik as ‘n motivering om literêre werke in Afrikaans te wíl verstaan nie?
Die naaste wat ons kon kom was Siener in die Suburbs (1973) en om die minste te sê is dit op die sestienjariges in die klas verkwis terwyl almal gesit en giggel het toe Tiemie vir Jakes ‘n ‘tang’ noem. Nie almal wil eendag skryf nie, maar ek glo dat filmstudies die gemiddelde Afrikaanse kind dalk kan oortuig om tale te geniet.
Die hartseer werklikheid is dat Roepman (2011) toe nog nie ‘n film was nie en dat die boek vergete was toe die betrokke Departement ‘n boeklys opgestel het.
Roepman is ‘n boek oor ‘n spoorweggemeenskap deur Jan van Tonder wat in 2004 gepubliseer is. Die verhaal speel in die sestigerjare af en het veral betrekking tot die invloede wat ons ouers gevorm het – Calvinisme, Christenskap, die streng pa en die gehoorsame dog ferm ma.
Deurentyd voel mens jammer vir die twee sussies en geniet die onskuld van jong Timus, totdat hy sy onskuld ontneem word.
Dit handel oor die Rademans en hul interaksie met die buurt en hul roepman, Joon. Dié drama het wel droewe temas maar die gebeure laat jou lag en laat jou pa glimlag omdat hy weet dat hy as kind dieselfde gedoen het. Die temas van Calvinisme, patriotisme en Christenskap word net soveel as in Mis ontgin, maar dit voel meer relevant.
As my salarissie my dit sou toelaat het ek al DVD-kopiëe hiervan aan skole geskenk. Maar as liewe Juffrou Schreuder die inisiatief kon neem om ons na Juno (2007) te laat kyk, waar is die Afrikaans-onnies met durf om so iets te doen?
Ek het reeds ‘n geldjie eenkant gesit om die roman te gaan koop en te geniet soos wat onderwysers maar net kan dróóm dat hulle leerlinge dit sal doen.