LettersOpinion

Bederf jou ma hierdie Moedersdag!

Bederf jou ma hierdie Moedersdag sonder om jouself bankrot te maak.

Moedersdag is om die draai en ek kan nie help om so ‘n bietjie nostalgies te raak nie (iets wat lyk my nogal gereeld gebeur wanneer mens ‘n bietjie ouer raak).

My ma was (en is) nog altyd ‘n sterk vrou, en het ons vrou-alleen grootgemaak. Ek en my ma het nie altyd saamgestem oor alles nie (veral toe ek die tienerjare betree het), en sy het altyd vir my gesê dat ek eendag, wanneer ek my eie kinders het, beter sal verstaan. Dit was iets wat ek nooit geglo het nie, en het altyd gedink sy sê dit maar net want regtig, hoe moeilik kan dit nou wees om kinders groot te maak?

Dit is ‘n denkwyse wat baie gou verander het die dag toe ek my eie kind in my arms vasgehou het, en besef het hoeveel liefde ‘n ma vir haar kind het. Dit is ook die oomblik wat ek verstaan het dat met elke besluit wat my ma geneem het, sy net my beste belange op die hart gedra het, en waar sy kon, wou sy my altyd beskerm.

Dit is om hierdie rede dat ek glo ons, as kinders, altyd ons bes probeer om Moedersdag vir ons ma’s so spesiaal te wil maak, maar hoe doen jy dit sonder om jou spaarvarkie oop te breek en al jou spaargeld te gebruik?

As ‘n ma wil ek net sê, ‘n Moedersdaggeskenk hoef nie duur te wees nie want al wat ons regtig wil hê, is tyd saam met ons kinders. Sou jy nou regtig voel jy wil iets vir jou ma gee, kyk gerus na die volgende idees:

• Ontbyt in die bed, ’n gesinspiekniek, of ‘n heerlike gesinsete. Ma word natuurlik nie in die kombuis toegelaat nie – nie met die voorbereiding nie en ook nie met die opruim nie.
• Pluk vir haar blomme uit die tuin en sit dit in ‘n mooi blompot met ‘n strikkie om.
• ‘n Handgemaakte kaartjie met woorde of ‘n gediggie spesiaal vir jou ma beteken baie meer as ‘n gekoopte een. As jy ver van jou ma af bly, bel haar, of stuur ‘n lekker lang e-pos waarvoor jy gewoonlik nie tyd het nie en vertel haar waarom sy vir jou kosbaar is en waarom jy haar waardeer.
• Nooi haar om saam met jou ‘n naaldwerk-, plakboek- of kosmaakkursus by te woon.
• Bied soms aan om aandete te maak en op te ruim, of neem van haar sleurtakies oor om haar werkslas te verlig.
• Gee haar gereeld ’n drukkie en sê: “Lief vir Ma”. Sê elke dag dankie vir wat sy vir jou doen.
• As jy haar nie elke dag sien nie, stuur gereeld ’n WhatsApp en vra hoe dit met haar gaan en sê jy is lief vir haar. Skryf soms ‘n lekker gesels-e-pos en sê hoe jy haar mism, en verlang na die tye toe julle nog kon saamkuier.

Ek sluit af met hierdie gedagte: As jy nog ‘n ma het, wees lief vir haar, waardeer haar. As jy nie meer ‘n ma het nie, koester haar herinneringe diep in jou hart. As jy self ‘n ma is, dank God dat Hy jou met moederskap gekroon het en druk jou kinders styf teen jou vas! Gelukkige Moedersdag!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button