
Soos die koronaviruspandemie voortsleep, het vele onderwerpe al groot debat onder ons landsburgers uitgelok, maar ek dink nie dat ek al ooit in my lewe ‘n groter debat gesien het as die een oor ‘n besonder dun naald nie.
Ja, ek praat van die Covid-19 inenting. Hierdie inspuiting, wat ongeveer 2ml entstof bevat, word daagliks op elke moontlike platform bespreek, en die inligting wat versprei word is so oorweldigend dat dit nogal moeilik is om te bepaal wat die waarheid is en wat sommer net bog is.
Ek besef dat hierdie redakteursnota van my heel waarskynlik gemengde reaksies by ons lesers gaan uitlok, en ek olie op die vuur gooi, maar ek wil graag vir julle vertel hoekom ek besluit het om deel te wees van dié groep wat ingeënt is.
Om die inenting te neem of nie te neem nie, is ‘n baie persoonlike saak vir elkeen van ons, en hierdie nota is bloot my opinie, en ek hoop dat dit jou so ‘n bietjie sal laat nadink.

My besluit is grotendeels deur my eie gesondheidsgeskiedenis beïnvloed, maar my gesin, en julle, ons lesers, het ook ‘n groot rol in my besluit gespeel. Ek glo dat ek veel eerder deel van die oplossing wil wees in hierdie stryd teen die virus.
Ek is deeglik bewus daarvan dat die inenting nie ‘n waarborg is dat ek nooit die virus sal kry nie, en dit beteken ook nie dat ek nou, nadat ek ingeënt is, mag ophou om my masker te dra of my hande te saniteer nie. Daar word ook gepraat van moontlike newe-effekte en moontlike sterftes wat daaraan verwant is. Ek moet eerlik wees, ek het heelwat onbeantwoorde vrae, en selfs bekommernis oor die entstof, maar vir my is dit nie nét medisyne nie, maar 2ml gevul met beloftes.
Dit is die belofte om na ‘n redelik normale lewe te kan terugkeer, om weer rugby te kan kyk in die stadion, ‘n optrede van my gunstelingmusiekgroep by te woon, ‘n gesellige braai saam met familie en vriende te hou, drukkies uit te deel en blad te skud, en soveel meer.
Dit is die rede hoekom ek my vrees vir naalde opsy geskuif het, my gunsteling superheld T-hemp aangetrek het en my laat inent het.
Tot volgende week, bly veilig en wees goed vir mekaar …



