Laerskool Horison nooi jou na ‘n fondsinsameling Spin-a-thon
Inskrywings kos R100 per span, en elke span gaan 'n tydgleuf kry op Vrydag, 6 November of Saterdag, 7 November by Laerskool Horison.
Die finansiële gevolge van die koronaviruspandemie het soveel mense en organisasies geraak, insluitende onderwysinstellings. Baie ouers kan nie bekostig om skoolfonds te betaal nie, wat daartoe lei dat skole nie onderwysers kan betaal nie.
Laerskool Horison wil leerders, ouers en onderwysers uitnooi om deel te wees van hul opwindende inisiatief wat nie net gefokus is op fondsinsameling nie, maar waardeur hulle ook omliggende skole die kans wil gee om binne die inperkingsreëls op sportvlak te kan kompeteer.
Spanne van vier mense kry een fiets en twee uur waarin deelnemers mekaar afwissel om te sien watter span die verste in die toegelate tyd kan ry. Spanne kan bestaan uit leerders, ouers, onderwysers en/ of vriende. Groot pryse wag op die spanne wat as wenners uit die stryd tree, insluitend ‘n bok of skaap, ‘n naweekwegbreek en kontantpryse.
Inskrywings kos R100 per span, en elke span gaan ‘n tydgleuf kry op Vrydag, 6 November of Saterdag, 7 November by Laerskool Horison.
Die gasheerskool beoog om Vrydag te gebruik vir al die laerskoolspanne en hul personeel wat inskryf. Kleuterskole wat inskryf sal slegs Saterdagoggend in hul afsonderlike area deelneem. Hoërskoolspanne word aangemoedig om in te skryf vir die Saterdag-tydgleuwe, alhoewel hulle ook welkom is om op die Vrydag deel te neem.

Spanne word aangemoedig om minstens een borg te kry om hul span te borg per kilometer wat hulle ry. Alle borg- en inskrywingsgeld moet teen 5 November in Laerskool Horison se rekening inbetaal wees, behalwe vir die spanne wat per kilometer geborg word, waarvan die geld teen Maandag, 9 November inbetaal moet wees.
Let wel: enige besigheid of instansie wat borg mag op Vrydag en/ of Saterdag tydens verrigtinge hulle produkte of besigheid adverteer. Hulle moet egter asseblief vooraf met me Nelie Kok reël.
Borge kan spanne per kilometer borg, of net ‘n eenmalige donasie maak. Inskrywingsvorms en bankbesonderhede is op die Laerskool Horison-webblad, www.horison.co.za. Eposaansoeke en vrae kan na horisonsport@gmail.com gestuur word.
Gedrukte inskrywingsvorms sal ook beskikbaar wees by Laerskool Horison, sowel as deelnemende hoërskole en laerskole vir die gerief van hulle leerders, ouers, en onderwysers wat graag wil inskryf. Nelie kan ook gekontak word by 083 304 3703 vir verdere navrae.



