Sport

Jong stoeier verteenwoordig SA by Afrika Kampioenskappe in Egipte

Die 18-jarige TJ Esterhuizen het die landsvlag laat wapper toe hy gedurende die week op die stoeimat vir 'n gesogte titel meegeding het.

TJ Esterhuizen (18) is al vir die afgelope 11 jaar ‘n gereelde deelnemer op die stoeimat, en, al het hy reeds heelwat prestasies behaal, is daar geen keer aan sy dryf en ambisie nie.

TJ is deel van die SA-span wat tans aan die Afrika Kampioenskappe in Egipte deelneem en is slaggereed om nét sy beste te gee.

“Om vir die span gekies te word is vir my ‘n groot voorreg en dit beteken vir my so baie. Ek het soveel verskillende emosies ervaar toe ek die nuus gehoor het, maar geluk is beslis die grootste een. Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om weer my land te kan verteenwoordig,” het TJ met ‘n glimlag vertel.

Hy is alreeds op 15 geleenthede as SA kampioen gekroon. Hy het ook ‘n vyfde plek in die International School Sport Federation se 2019 Combat Games behaal, asook ‘n brons medalje, ‘n vierde- en ‘n vyfdeplek by die Afrika Kampioenskappe. Hierdie jaar neem hy in die o20 Vrystyl kategorie deel en is vasbeslote om wéér as kampioen huis toe te kom.

TJ se ma, Ansie, het vertel dat hy amper nie die kampioenskappe kon bywoon nie.

“Ons het amper vir TJ onttrek want ons het nie gedink dat ons die R37 000 sou kon by bring nie; ons het omtrent nog so R12 000 gekort. Gelukkig het TJ se afrigter by die Ruiter Stoeiklub, Dean van Zyl, in gespring en ons gehelp om ‘n borg of twee te kry.”

Hierdie geleentheid is vir TJ groot en hy het gesê, “Om aan die kampioenskappe deel te neem beteken dat ek ‘n verskil kan maak in ons land en ook vir die stoeiers wat nog kom. Ek kan ook ‘n verskil in my en my ouers se lewens maak, want ek kry die geleentheid om die beste weergawe van myself te wees.”

Ansie het bygevoeg dat hulle baie trots op hom is vir dit wat hy alreeds bereik het, en hulle glo dat hierdie ondervinding vir hom baie waardevol sal wees.

TJ het vertel dat hy in voorbereiding vir die kampioenskappe, vier tot vyf maal ‘n week geoefen het en ook baie op sy dieet gekonsentreer het.

“Die belangrikste ding waaraan ek gewerk het, is my mindset, want as dit nie reg is nie, sal ek beslis nie my beste op die stoeimat kan gee nie.”

Related Articles

 
Back to top button