Ruimsig Parkrun-vrywilliger voltooi 25e mylpaal
Die parkrun is heeltemal afhanklik van vrywilligers om te funksioneer, en is altyd danbaar vir dié wat hul tyd opoffer om een van die menige vrywilliger-rolle te vervul.
Een van Ruimsig Parkrun se getroue vrywilligers het onlangs haar 25e mylpaal bereik.
Althea Coetzer, 60, is al vir die afgelope sewe jaar deel van die parkrun en sê sy probeer om op ‘n gereelde basis as ‘n vrywilliger op te tree.
“Die parkrun is afhanklik van vrywilligers, en, as elkeen wat aan die parkrun deelneem ten minste vier maal ‘n jaar in een van die vrywilliger-rolle uithelp, sal die parkrun altyd glad kan verloop.”
Sy het bygevoeg dat dit vir haar bevredigend is om as vrywilliger op te tree.
“Dit is lekker om ander te help en te weet dat jou tyd wat jy gee waardeer word. Parkrun-vrywilligers help nie net om dit vir die deelnemers gemakliker te maak nie maar die las op die parkrunspan te verminder. Dit is seker een van die belangrikste aspekte van parkrun.”
Vrywilligers wat by die weeklikse parkruns uithelp, word ook met krediete beloon, en een rol wat vervul word, is gelyk aan een krediet. Althea het verduidelik dat dar verskeie rolle is wat vrywilligers kan vervul, soos byvoorbeeld, parkwalker, tailwalker (die persoon wat heelagter loop en seker maak alles verloop glad gedurende die 5km), help met die opstel en ook die wegpak by elke parkrun, fotograaf, tydhouer, strepieskode skanddeerder, plekkaartjie uitdeler of sorteerder, eerste keer parkrun verwelkoming, en vele meer.
“Behalwe vir die mylpaal T-hemp wat op die parkrun webtuiste bestel kan word, kan jy ook (as jy ‘n Discovery Vitality-lid is) Vitality punte verdien,” het Althea gesê.
Sy het afgesluit deur ‘n beroep op elkeen te doen om deel te word van die vrywilligerspan. “Dit is altyd lekker om deel van ‘n fantastiese groep te wees en as dit waardeer word, is dit soveel better.”



