Sport

Plaaslike skut het groot dinge in visier

Die jongste ster op die Florida skietbaan, Anya Theart, is 'n talent om dop te hou.

Die Hoërskool Florida Skietklub se eie Anya Theart het onlangs haarself in die geskiedenisboeke ingeskiet en vir die Junior Proteaspan gekwalifiseer.

Anya, van kleins af ‘n uitblinker in verskeie sportsoorte, moes haar atletiekskoene en netbalrompie in graad 9 ophang nadat sy ‘n rugbesering opgedoen het, en boonop met epilepsie gediagnoseer is.

Volgens ma Sonya is Anya van kleins af op beide die sportveld en in die klaskamer ‘n uitblinker.

“Sy is nog altyd ‘n baie toegewyde persoon en as sy haar fokus op ‘n doel plaas, kan jy maar weet dat sy dit sal behaal,” sê Sonya.

Hoërskool Florida Skietklub se Anya Theart het onlangs vir die Junior Proteaspan gekwalifiseer.

“Soos dit maar gebeur in sport, het sy ‘n paar beserings opgedoen, maar sy was vasbeslote om gesond te word en weer deel te neem. Ongelukkig het haar epilepsie diagnose ‘n stokkie voor haar sport ambisies gesteek, en sy is aangeraai om aan geen kontak- of fisiese sport deel te neem nie.

“Een middag toe sy van die skool af by die huis kom, kon ek sien die frustrasie is besig om vir haar op te vreet, en toe stel ek voor dat sy by die skietklub aansluit, aangesien sy dit baie geniet het om saam met haar pa te gaan jag.

“Sy het van die staanspoor af ‘n talent vir skiet gehad en binne minder as ‘n jaar het sy begin naam maak by die onderskeie kompetisies. Ons is ongelooflik trots op haar prestasies.”

Anya self is meer beskeie oor haar uitmuntende prestasies op die skietbaan, en neem dinge een dag op ‘n slag.

“My volgende doel is om vir die Proteaspan gekies te word,” sê sy. “Sodra ek dit bereik het, sal ek die volgende doel begin najaag. Dit was vir my baie moeilik om my fisiese sportsoorte op te gee. Ek was baie raadop, maar vandat ek skiet ontdek het, gaan dinge sommer weer voor die wind.

“Ek is ‘n tipe persoon wat iets nodig het om op te fokus. Ek kan nie sit en niksdoen nie. Toe ek nie meer aan sport mag deelneem nie, het ek baie gefrustreerd geword. Toe ek begin skiet het, het ons afrigter my onder haar vlerk geneem en ek het nog glad nie weer teruggekyk nie.”

Anya is vol lof vir haar skool se skietafrigter, Annerien Snyman. “Sy het my deur dik en dun bygestaan en my talent van die begin af raakgesien en gekoester.”

Volgens Snyman is dit nie elke dag wat ‘n afrigter, ongeag van die sportdissipline, ‘n natuurlike talent van Anja se kaliber onder hande kry nie.

“Anja maak baie maklik lig van dit wat sy bereik in hierdie sport, maar ek kan vir jou sê talent is net een van die bestandele wat ‘n mens nodig om op haar vlak mee te ding. Haar harde werk en deursettingsvermoë is wat diè resep voltooi.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button