Kruiners presteer in Bloemfontein
Kruiners-rugbyhelde hou die skool se naam hoog as deel van die Goue Leeus-sewesspan.
Twee spelers van Laerskool Helderkruin, Jordan Vorster en Renz Keyser, het as deel van die Goue Leeus se o12B-sewesspan op 21 September weereens hul staal op die rugbyveld bewys.
Volgens Kruiners bemarkingsbeampte Karen Lourens, het hulle teen strawwe kompetisie by die Millennium-sewestoernooi te staan gekom en hulle uitstekend van hul taak gekwyt.

“Ons spelers het hul harte uitgespeel en dit reggekry om met ‘n silwer medalje van die veld af te stap,” sê Lourens.
“Gegewe die hoëvlakrugby wat by hierdie byeenkoms gehandhaaf word, is dit ‘n reuse sukses vir die Goue Leeus-span.
“Ons is geweldig trots op die wyse waarop hierdie spelers die Goue Leeus en Laerskool Helderkruin verteenwoordig. Ons weet sommer dat beide spelers die Kruiners sowel as die Goue Leeus nog baie trots gaan maak.”



