Sport

Warriors neem rugbyveld op horings

Klub rugbytoernooi bied jong spelers 'n geleentheid om vaardighede in te oefen.

Warriors Rugbyklub het op Saterdag, 8 Maart by Hoërskool Florida se velde ‘n rugbytoernooi aangebied om aan jong spelers waardevolle speeltyd te bied.

Volgens Warriors hoofafrigter en voormalige Bulle speler, Johan Muller, bied hierdie vriendelike wedstryde spelers ‘n geleentheid om die vaardighede wat hulle tydens hul oefensessies geleer het op die veld toe te pas en te verskerp.

‘n Badgers afrigter gee raad.

“Die fokus is absoluut op spelerontwikkeling, die praktiese toepassing van vaardighede, en natuurlik, die genot van die spel,” sê hy.

Warriors se o6- en o7-spanne het gedurende die oggend se eerste wedstryde teen Alberton-gebaseerde Ruck and Roll Rugby Academy te staan gekom en hulle puik van hul taak gekwyt.

“Hierdie wedstryde is daarop gemik om ons jongste spelers ‘n positiewe rugbyervaring op die veld te gee en te bou op die fundamentele vaardighede wat hulle gaan benodig wanneer hulle uiteindelik die veld in meer konvensionele 15-man rugby in die daaropvolgende ouderdomskategorieë betree.”

Muller is dit eens dat die jong spelers duidelike vooruitgang getoon het en die lesse wat hulle op die oefenveld geleer is, goed toegepas het.

Badgers spelers keer vir ‘n vale.

Die o8’s se wedstryd teen Ruck and Roll het ook goed verloop en daar is natuurlik gefokus op strenger reëltoepassing in aanleiding tot hulle uiteindelike oorskakeling na volveld-rugby.

“Wedstrydondervinding is van kritiese belang op hierdie stadium sodat die spelers die groter veld en strenger reëls gewoond kan raak,” sê Muller.

Na afloop van die openingswedstryde was dit tyd vir die o9 tot o13 ouderdomsgroepe om vir hul wedstryde aan te meld.

In hierdie wedstryde het Warriors teen Bryanston se Badgers Rugby Club te staan gekom en volgens Muller is die vooruitgang in hierdie spelers duidelik te bespeur.

Die jong spelers het puik lynstaanvaardighede ten toon gestel.

Warriors-speler De Wet Schlebusch het uitgestaan en is uiteindelik, nadat die stof gaan lê het, as speler van die dag aangewys.

“De Wet het uitmuntend presteer as die top punteaantekenaar vir die dag en het ses drieë gedurende sy span se wedstryd teen Badgers gedruk,” sê Muller.

Muller voeg by dat terwyl die juniors mekaar die stryd in Florida aangesê het, het Warriors se seniorspelers aan die Goue Leeus Rugby Unie se jaarlikse sewestoernooi in Alberton deelgeneem.

“Dit was ‘n lang, maar baie opwindende dag vir Warriors Rugbyklub.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button