Sport

Rolbal by Waterval laat seniors leef en lag

Florida-Noord Rolbalklub het tydens hul uitreik na Waterval Village aftreeoord vir 'n heerlike middag op die baan gesorg.

Rolbalspelers van die Florida-Noord Rolbalklub het op 7 Mei ‘n uitreik na die Waterval Village Aftreeoord gehou om rolbal te bevorder as ‘n manier vir afgetredenes om aktief te bly en ‘n gesonde lewenswyse te handhaaf.

Florida-Noord Rolbalkub-lid Kobus Botha wys hoe dit gedoen word.

Sakkie Lombaard, ‘n lid van die klub en inwoner van die aftreeoord, het die uitreik aan klubvoorsitter Eddie Lee voorgestel, en die idee het dadelik aanklank gevind.

“Ons het ‘n pragtige rolbalbaan by die oord,” sê Sakkie. “Ongelukkig word dit onderbenut.

“Ek wil graag ons inwoners inspireer om meer aktief te wees, en rolbal is die ideale sport daarvoor.

“Dit is ook ‘n goeie verskoning om uit te kom en ‘n bietjie meer gereeld sosiaal te verkeer,” skerts hy.

Volgens Eddie was die uitreik die ideale geleentheid vir die klub om die sport waarvoor hulle so lief is, te bevorder en terselfdertyd moontlik ‘n paar nuwe lede te werf.

Sakkie Lombaard en Florida-Noord Rolbalklubvoorsitter Eddie Lee.

Klublede het die sonnige dag ten volle benut, vinnig op die oord se baan toegesak en ‘n paar inwoners genader om saam te speel.

“Ons het ‘n hele paar mense wat nog nooit voorheen gespeel het nie, oorreed om deel te neem,” sê Eddie.

“Namate die spel gevorder het, het daar ‘n groep toeskouers gevorm wat gou ondersteuners geword het en as die ‘Kieriebrigade’ gedoop is.

“Die dag was ‘n reuse sukses, en daar is reeds sprake van ‘n maandelikse toernooi,” sluit hy af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button