Muurbalspeler ryg prestasies in
Michalen Hendrikse (15) sorg vir groot opgewondenheid op die muurbalbaan.
Michalen Hendrikse blyk bestem te wees om in sy bekende pa, Devon – tot onlangs een van Suid-Afrika se top-10 muurbalspelers – se voetspore te volg. Hy het pas sy Gauteng-kleure in o.16-muurbal verwerf.
Michalen (15) is ’n graad 9-leerder aan Hoërskool Noordheuwel, en sport loop letterlik deur sy are.
Volgens hom het hy ’n krieketbeurs aan die skool en geniet hy, benewens muurbal, ook gholf.
“Hy word in ’n sporthuis groot,” sê Devon. “Beide ek en my vrou het provinsiale kleure, en dit maak ons baie trots dat hy nou ook in ons familietradisie volg.”
Michalen is van kleins af omring deur muurbal, met beide ouers wat bekende figure in die sport is.
“Toe ons onlangs as mede-eienaars die Western Racquets Muurbalklub oorgeneem het, het ek en Michalen baie meer geleenthede gekry om saam te speel.
“Die groei wat hy in so ’n kort tydjie getoon het, is merkwaardig.”
Gedurende die Julie-skoolvakansie het Michalen as deel van die Gauteng o.16-span na Bloemfontein getoer om aan die SA Interprovinsiale Muurbaltoernooi deel te neem.
“Hy het nommer vyf in die A-span en nommer een in die B-span verteenwoordig, en het sewe van sy tien wedstryde gewen.
“Hulle span het van die nege provinsies vyfde geëindig,” sê Devon trots. “Dit is sy eerste jaar in die o.16-afdeling, so daar is nog baie ruimte vir groei voordat hy 16 word.”
Devon voeg by dat Michalen eers die afgelope twee jaar die sport ernstiger begin opneem het.
“Hy speel ook vir Hoërskool Noordheuwel se o.16 A-span, wat op koers is om die Sentraal Gauteng Skoleliga te wen.”



