SKOOLHOOF Marie Botha wil graag ‘n hartlike dankie aan al Hoërskool Suid-Natal ondersteuners en hoogsgewaardeerde borge oordra. Sonder die vrygewige skenkings van ons getroue borge sou dit nie moontlik gewees het om alles te vermag wat ons in 2014 aangepak het nie.
Mev Botha wil ook graag aan al die ouers en personeel van die skool dankie sê vir die harde werk en insette gelewer in 2014. Die skool is veral trots op Suidiespersoneel wat so pragtig buite skoolverband presteer en sorg dat die kinders uitstekende sportafrigting ontvang. Onderwyser Lance Grobler is reeds 23 jaar lid van die KZN visvang-unie en nie alleen is hy ‘n KZN verteenwoordiger nie, maar ook lid en bestuurder van die Suid Afrikaanse span. Hy en sy span was goue medalje wenners tydens die internasionale toernooi gewees.
Onderwyseres Madelein Ferreira het in 2014 in landloop uitgeblink, aan verskeie byeenkomste deelgeneem en uitstekend gevaar. Sy het ook aan die ‘KZN landloop champs’ deelgeneem en ‘n algehele tiende posisie in haar ouderdomsgroep verwerf. Onderwyser Bennie Oosthuizen het Suidies se naam op die rugbyveld hooggehou en vir die Wildebeesspan (KZN) tydens die provinsiale toernooi te Kimberley as stut uitgedraf.
Onderwyseres Madri Botha het as aksie-netbalspeelster uitgeblink en aan die provinsiale toernooi in Johannesburg deelgeneem waar hulle span uitstekend gevaar het. Marieke Durrheim het die KZN-distriktespan gehaal en as onderkaptein van die dames ope-span uitgedraf. Sy het ook die jaar as skeidsregter tydens die toernooi opgetree en as vlak twee afrigter gekwalifiseer.
Hoërskool Suid-Natal wens ieder en elk ‘n geseënde Feesgety toe.
