NewsSouth Coast Fever

JOHAN PRETORIUS: Die wondere van die mediese wetenskap

Bg. persoonlike ervarings het ons weereens laat besef hoe belangrik goeie mediese behandeling is. Maar bowenal, veral in Suid-Afrika, die noodsaaklikheidvan ‘n goeie mediese fonds.

Omdat die uwe en vroulief nie meer vandag se kinders is nie, word ons, soos die meeste ander mense in ons ouderdomsgroep, alhoe meer blootgestel aan mediese ervarings en -inligting.

Sowat drie jaar gelede het ek die eerste keer bewus geraak van my hartklop wat periodiek, gemiddeld twee keer per maand, skielik vir 10 tot 15 minute skielik op loop gaan. Uiters ongemaklik, en uiteraard kommerwekkend. My internis het my hart met ‘n kardiogram en op verskeie ander maniere getoets, daar was geen aanduiding dat daar enigiets met my hart se normale funksie verkeerd was nie. Om uit te vind wat die verhoogde hartklop veroorsaak, moet ‘n kardiogram gedoen word onderwyl dit gebeur, wat weens die onverwagse aard daarvan nie moontlik is nie. Hy het my verwys na ‘n uiters-bekwame hartspesialis, ‘n kenner van hartritme-probleme en die tegnologie om dit te behandel.

Hy het my meegedeel dis ‘n toestand bekend as tagikardie, maar hy kan niks doen indien ek nie ‘n elektrokardiogram ondergaan terwyl dit gebeur nie. Hy stel voor hy plant ‘n implement, baie klein en gemaklik, net onder die vel van die borskas, by die hart in. Hierdie implement doen dan ‘n elektrokardiogram, stuur die besonderhede aan die spesialis. Hy het verduidelik wanneer die tagikardie begin, aktiveer ek die toestel. Hierna neem ek die ‘gehoorbuis’ van ‘n klein rekenaar wat aan die internet gekoppel is, plaas dit op die toestel in my bors, druk ‘n knoppie, en die inliging word na die rekenaartjie oorgeplaas, wat dit onmiddellik per internet na die kardioloog versend. Teen die tyd was ek weereens verstom oor die gehalte van deesdae se mediese tegnologie.

My mediese fonds het vir die implement en operasietjie van een uur (onder plaaslike verdowing ) betaal. Die totale koste sal ek liewer verswyg. Twee weke later het ek weer ‘n tagikardie-episode gehad, die nodige gedoen, en die spesialis het my laat weet ek moet hom kom sien. Hy het my meegedeel dit sou nie nodig wees om ‘n binne-aarse prosedure uit te voer om ‘n ‘periodieke ekstra elektriese hart-impuls dood te brand nie’, en hy het my pilmedikasie voorgeskryf. Hy sou dan my hart deurentyd monitor. Dit was sowat ‘n jaar gelede. Sedertdien het ek periodiek, nie meer as ses of sewe keer nie, tagikardieë gehad, maar baie lig en van korte duur. Elke keer het ek binne ‘n dag ‘n boodskap van die spesialis gekry dit het by hom geregistreer (sy spreekkamer is sowat 30 kilometer van my huis af), maar dit was lig, en niks waaroor ek my hoef te bekommer nie.

Wat my egter die meeste verbaas, is dat ek net die eerste twee of drie keer die toestel in my bors geaktiveer het. Die afgelope sowat ses maande het dit outomaties ‘n elektrokardiogram gedoen, dit aan die spesialis deurgestuur, en ek het elke keer my terugvoer gekry met die datum en tyd waarop dit plaasgevind het, die duur daarvan, en die boodskap dat daar niks kommerwekkend is nie. Ek moet die spesialis binnekort weer besoek, en die eerste vraag aan hom sal wees hoe dit moontlik is dat die toestelletjie homself aktiveer, en die inligting outomaties deurstuur.

Die tweede geval oor die mediese wetenskap wat ek wil deel het te doen met vroulief. Sy het bykans drie jaar gelede ‘n beroerte gehad, wat vinnig en doeltreffend behandel is, met geen nagevolge nie. Behalwe dat sy daaglikse medikasie inneem om die bloeddruk, bloeddikte en hartklop te stabiliseer. Dit was nie nodig om die betrokke internis in Margate die afgelope twee jaar te besoek nie, maar sy moes egter in Februarie gaan vir ‘n roetine-ondersoek. Hy het die normale sprosedures soos bloedtoetse gedoen. Alles het goed gelyk, totdat hy die volgende dag laat weet het hy het die uitslag van die bloedtoetse gekry, en ons moet dadelik soontoe kom. Ons is meegedeel haar skildklier funksioneer feitlik gladnie, terwyl dit drie jaar gelede heeltemal normaal was. Hy het onmiddellik medikasie voorgeskryf, en die klier word nou stelselmatig gehelp om te herstel. Van belang hier ons oudste seun het sowat ‘n jaar gelede matige probleme ondervind, sy jonger broer se skildklier het ‘n jaar gelede ernstig begin wanfunksioneer, en hy neem nou ook daaglikse medikasie.

Sedertdien is ‘n goeie vriendin met ‘n ooraktiewe skildklier gediagnoseer, en het ons kennis geneem van ander soortgelyke gevalle. Navrae by medici het aan die lig gebring skildklier-wanfunksionering is blykbaar ‘n redelik-algemene probleem, en sowat 80% van die mense wat daaraan ly, besef nie daar’s fout nie. Van die simptome is chroniese moegheid, en skielike gewigstoename of -afname, afhangend daarvan of die klier ooraktief of onaktief is, en haarverlies. Die klier speel ook ‘n uiters belangrike rol by ander liggaamsfunksies.

Bg. persoonlike ervarings het ons weereens laat besef hoe belangrik goeie mediese behandeling is. Maar bowenal, veral in Suid-Afrika, die noodsaaklikheidvan ‘n goeie mediese fonds.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button