LettersOpinion

‘Aaptroppe toets mens se geduld’

Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat ape slegs vir oorsese toeriste vermaaklik kan wees.

GEAGTE Redakteur,-

Vergun my ‘n gedagte of twee oor die ietwat omstrede aapkwessie wat kort-kort hier aan die Suidkus opvlam, soos nou weer in u eerbiedwaardige koerant aan die gebeur is.

Ek sê spesifiek eerbiedwaardig omdat die Herald en sy huidige personeel tans aan die feesvier is omdat die publikasie daarin geslaag het om die Suidkus-gemeenskappe 75 jaar lank suksesvol van nuus oor hul eie omgewings te bedien.

As ‘n oudjoernalis wat al in verskeie hoedanighede gedien het by verskeie publikasies wat die volle spektrum van die Afrikaanse hoofstroom koerante en ook gemeenskapspublikasies bestryk, weet ek watter taai stryd dit is om te oorleef in so ‘n uiters mededingende omgewing, dus sê ek heelhartig baie geluk! En voorspoed vir minstens die volgende 75 jaar!

Die aapkwessie: Ek weet ek stel my dalk bloot aan die hellevuur, maar ek het nie juis simpatie nie met die sogenaamde diereliefhebbers soos verteenwoordig deur die onlangse publikasie van ‘n brief onder die pseudoniem ‘Heartbroken’ wat in erg emosionele terme in u geëerde blad lamenteer oor die windbuksterreur waaronder hul geliefde plaaslike aaptrop daar in Southport deurloop.

Laat ek dadelik sê dat ek hoegenaamd nie die drastiese metode goedkeur wat die perpetreder aanwend om van sy aap-probleem ontslae te raak nie.

Maar dan moet ek ook byvoeg dat ek lankal dwarsdeur die oulike apie-streke gesien het en tot die gevolgtrekking gekom het dat hulle slegs vir oorsese toeriste vermaaklik kan wees. Wat my betref is hulle ‘n pestilensie wat mens se vredige ekwilibrium tot uiterste beproef.

‘n Laaste gedagte, die probleem, myns insiens, met dié kwessie is dat hier te veel afgetredens is met te veel tyd op hul hande. Daarom neem hulle die apies aan ter bestryding van hul verveeldheid en ook om die leënes-sindroom teen te werk.

WWJ BUYS

Uvongo

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button