BlogsOpinion

Die Lorriesmous: Gaan groot Boeta!

Neels het van meet af ‘n wilsbesluit geneem dat hy nie korporatiewe of groot, yslik groot transaksies sou najaag nie.

Neels kon hom nog altyd oopmond vergaap aan ‘n groot affêre. Die eerste en enigste keer toe hy opkyk na die hemelhoë Eifeltoring bly hom by, soos gister. Terwyl sy reisgenote met die hysbak boontoe ry, gons Neels die spiraal trappe op. Natgesweet met bonsende hart tuur hy oor die nagligte van die Liefdestad; die inspanning was die moeite werd. Jare tevore in sy matriekjaar, klim Neels en sy kammie, ‘n gesoute Kapenaar, een van die bekendste pieke in die Hotnotsholland bergreeks. Hugo Marais het bonkige, harige kuite vertoon, gemaak vir rotsklim. Sy aksent was inheems van die Paarl en hy het elke stukkie fynbos by die naam geken. Tog het sy asem meer gehyg as Neels s’n. Hugo het tennis gespeel. Hulle het oor drie pieke getrek en einde ten laaste teen ‘n skuins geut opgeseil om bo-op Vierde piek te staan. Die dag was helder en om hulle strek ‘n honderd en tagtig grade wonderskone panorama van die Skiereiland. Die son het net verby sy hoogste punt getrek toe Hugo uit pure opgewondenheid mistrap en sy enkel verswik in sy manewales om die botterblommetjies te beindruk. Gelukkig het Hugo nie in die skrum gedruk soos Neels nie. Hy was net effe frisser as die gewone skrumskakel, amper ‘n sakkie sement en graaf se gewig. Toe die perde koud gelei is, begin die terugtog.

Hotnots-Holland berge – Wikipedia

Neels ken van streepsak oor die rug, dog hierdie is ‘n voël met vreemde vere. Om ‘n mens teen ‘n berg af te abba is ‘n vreemde ervaring. Toe Neels se voete vir die tweede keer onder hom padgee, merk Hugo driftig op: Die kranse hang nog afgryslik hoog, hou kop om die draaie en bly in laagste versnelling. Voor sononder is ons by die koshuis, praat hy Neels moed in. Van ver af het die hele koshuis hierdie spektakel gade geslaan. Neels wat in vier spore loop en bokspring en Hugo wat soos ‘n July-jokkie sy sit moet ken. Onder toejuiging slaan die uitgemergelde strydros en sy ridder op die grasperk neer. Meneer Nel, die koshuisvader, het twee emmers koue water byderhand gehad. Gooi meneer, gooi meneer! was al klank wat roggelend uit hulle droë kele gekom het. Hier was g’n kortpad bergaf nie, ook g’n kortpad om tot op Vierde piek te klim nie. Neels het nie aan kortpaaie geglo nie.

Pixabay

In sy eerste dekade as lorriesmous was Neels se visier ingestel op verkooptegniek en vortuigspesifikasie. Hy was tevrede met die vasgestelde inkomstestruktuur. Van grootgeld maak en kortpaaie na sukses het hy niks geweet nie. Een van sy senior kollegas was van ‘n ander planeet. Jannes Combrink kon ys aan ‘n Fillistyn verkoop. Hy was charismaties uitgeknip. Sonder om gesag af te dwing het selfs die kroeg stiller geraak as hy instap. Jannes was die stersmous. Hy kon soms net wegraak vir amper 10 dae en dan die bestuur se monde snoer met ‘n bestelling van twintig perde aan boere in die Hantam. Net so onvoorspelbaar was sy bedanking. Tydens sy afskeidspiets merk hy nonchalant op: My laaste bestelling van vier perde bemaak ek aan Neels en Gerrie, die twee groen smouse; hulle kan die kommisssie deel. Ek betrek Maandag my nuwe kantoorkompleks op die agt en twintigste vloer van die nuwe Carlton Sentrum in Commissionerstraat.

 

Carlton Sentrum – Wikipedia

Van daardie dag het selfs Jannes se naam ‘n nuwe snit gekry. Wanneer hy die telefoon antwoord, was dit in foutlose Sandton dialek: ‘Jens Cumbrienk speaking, how can I assist you?’ Vir amper twee jaar was Jannes die nuwe blink môrester in Groot masjienerie en Lorrie finansiering. Hy het ‘n uitsoekspan van twaalf bekwame dames geinspireer om onvermoeid uit te haal en te wys, spreekwoordelik bygesê. Groot maatskappye was op sy portefeulje en die banke se deure het oopgeswaai vir hierdie dinamiese makelaar. Jannes Combrinck het voorwaar groot gegaan. Neels het die middagkoerant net tweemaal ‘n week gekoop. Hy slaan die Vaderland koerant oop en op die derde bladsy grynslag Jannes reguit in die kamera. Die berig vertel ‘n ander storie. Die Brixtonse speurtak het meneer Combrinck vanoggend in hegtenis geneem op vele klagte van bedrog met voertuie en implimente wat der miljoene beloop. Jannes het te vinnig teen die kranse kortpad boontoe gesoek en op ‘n los klip getrap.

 

Pixabay

Meer as tien jaar later het Neels vir Jannes in Durban raakgeloop. Hy was heelwat gryser en kleiner van postuur en feitlik onopsigtelik. Dit was onnodig om te gesels en heen en weer praatjies te maak. Hulle het net so gesit en tuur in mekaar se oë. Met die groet na die laaste loopdop, merk Jannes nonchalant op: Lorriesmous, onthou jy skuld my vir twee lorries se kommissie. Neels trek die klein mannetjie nader en druk hom lank en innig teen sy hart vas. Daarna het hulle het tot laatnag gekuier en uitgelate gesels.

LEES OOK:  Die Lorriesmous: Wat nou gemaak?

Die moeder van mega transaksies sou vir lank golwe veroorsaak in die groot raadsale van die bedryf. Neels het van meet af ‘n wilsbesluit geneem dat hy nie korporatiewe of groot, yslik groot transaksies sou najaag nie. Meer as een maal is hy aangespreek dat hy nie die maatskappy of produk se belange bevorder deur nie betrokke te raak by mega transaksies nie. Neels het gefokus op die enkele, twee of soms vier eenhede transaksies. By ‘n boer sou hy tenminste ‘n geslagte skaap pasella kry of vriende op die jagveld maak. Neels se portefeulje is op stewige pilare van menslike verhoudinge en vertroue gevestig. Tog moes hy teësinnig om elf voormiddag op Borman Greeff se plaas deuskant Sweizer aantree om tender details af te haal asook die inruilvloot te evalueer. Neels was optyd ‘n halfuur voor die klok lui. Borman se netjiese vloot van amper sestig kombinasies was in ‘n halfmaan getrek om sy werkswinkel-kantoorkompleks. Op die kop elfuur maak Bornman keelskoon in sy stinkhout en geelkoper raadsaal. Menere, hierdie is beslis die transaksie van die jaar in julle bedryf as lorriesmouse. Hierdie is ‘n geleentheid vir die dapperste ondernemer om na vore te tree en sy staal te wys. Elkeen van die ses konkurente smouse het ‘n netjiese lêer ontvang met die inruilvloot se details. Bornman se vloot was agt uit tien nog onder afbetaal-ooreenkomste gebonde. Die aflosbedrae met 14 dae sperdatum is ingesluit. Die halfdosyn spannetjie is vyftien minute gegun om die transaksie vereistes deur te gaan. Daarna kan julle my enige vraag vra, net nie oor my derde vrou nie, ons het twee weke gelede van ons wittebrood in Singapoer teruggekeer. Op sy breë glimlag met gepoleerde witgebit is sy spontane nuutgevonde geluk uitgebeitel.

 

Pixabay

Die volgende oggend wag die bestuur in hulle raadsaal vir Neels se verslag oor die Greeff Beleggings transaksie. Neels laat nie op hom wag nie en praat erger as die sweep in die parlement. En dit, menere, is hoofsaaklik die redes waarom ek nie wil betrokke wees by hierdie transaksie nie. Borman Greeff het ‘n vernuftige skema bedink om vroeg af te tree met ‘n stewige neseier vir hom en sy wulpse vroutjie. Ek herhaal: Hy verwag ‘n grasie periode van ses maande alvorens sy eerste paaiement betaal word; die BTW word deur hom geeis en aangewend vir werkskapitaal; Die oorskot van sy inruiltransaksie word aan hom uitbetaal tydens aflewering en ondertekening van die nuwe vloot. Die wind trek van die verkeerde kant en gee my ‘n kramp in die boudspier. Ek staan opsy by hierdie reuse groot vernuftigheid. Laat hy val waar hy wil. Die bestuur se monde hang oop. Het die lorriesmous dan aandele in die handellaarskap verkry dat hy so tekere gaan. Neels het die taaiste klap vir laaste uitgehou. Hier is die toppunt van vermetelheid. Die koper verwag dat die verskaffer genoegsame sekuriteite aan die bank sal lewer aangesien hulle vertroue in hulle produk het! Hiermee staan die bestuur op en wens Neels geluk met sy volslae berekende insig.

Pixabay

Vir ses maande het Borman se sestig donkerblou kombinasies die land deurkruis met vragte van oral. Daar is vertel dat elke drywer tenminste twintigduisend kilometers per maand moes roei om vir ‘n groot bonus te kwalifiseer. Twee weke in die sewende maand was die spogvloot veilig agter slot en grendel by die bank se persele. Neels se profesie is bewaarheid. Aan die einde van die sesde maand stuur Greeff Beleggings se likwaditeur kennis aan die bank van hulle kliënt se bankrotskap. In sesmaande het Borman sy plaas en los goedere verkoop en gewoeker en geskep soos ‘n besetene. Transport was beslis nie meer sy spel nie. Hy het kortpad laat waai na waar skitterligte selfs in die dag verblind. Klatergoud sou Borman einde ten laas opeis.

Hannes van der Westhuizen.

 

 

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.

 A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad.  On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.

Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten.  He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.

 

 

 

 

HAVE YOUR SAY

Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button