Neels, wanneer laas het ons ’n lammetjie by Laoma gekoop? vra Loretta uit die kombuis terwyl sy weereens ’n opgesyde hamel wegpak. Liefling, hierdie pasella skapies se vleis smelt weg in die mond, so asof die slagters die kwaliteit bederf met hulle winsmarges, antwoord Neels bedaard, dog met erkenning vir sy kliënte se mahalas. Daar was egter ’n paar uitsonderings op die reël; spanspekke, waatlemoene, avokados en die malste oom Sarels was egter deel van die pasella offerhandes. Soms wroeg Neels nog met die vraagstuk of hy hierdie mahalas en pasellas moes verklaar het op sy inkomstestaat of die tiende hamel uithou vir die kerkbazaar?

Toe Loretta nog Lulu was, help sy Neels met die aflewering van ’n 25 ton kombinasie wat ’n ryk boer deuskant Marble Hall bestel het. Alf Bekker was in die moeilikheid. Sy perskes was reg om gepluk te word, hier en daar het een al afgeval. Sy jare lange vervoerkontrakteur is onderdeur en nou moet hy teësinnig sy eie trok koop. Neels sal Alf se opdrag nooit vergeet nie: As jy hierdie perd met ’n vrugte trailer môre voor sononder op my plaas aflewer, dan is jy in my goeie boekie. Neels het sy voetwerk geken en dwarsdeur gewoel met die verskaffers en diesmeer sonder om ‘n oog toe te maak. Hy het Lulu drie weke gelede ontmoet en sy is die nuwe vlam van inspirasie in sy mondering. Neels gooi self die kieries en Lulu volg hom op ‘n veilige afstand in sy 528i. Alf se plaashek staan oop toe Neels die lugtoeter laat trompeteer toe die son begin knipoog. Alf wuif hom nader met ’n groenvlag.

Op die laaibank voor sy pakhuis staan die eerste vrag in kiste verpak. Neels trek die perd en sy dertien en ’n half meter lang leunwa netjies langs die laaibank. Alf is die generaal in bevel. Sonder om ’n enkele woord te spoeg, kry hy sy span aan die gang met handgebare, groot-oog kyk en vingerklap. Lulu het ondertussen onder Neels se vlerk ingekruip om die doenigheid te beleef. Toe die laaste kis op sy plek rus en die seile vasgetrek is, klap Alf op sy massiewe hande: Dankie manne, kry elkeen drie lospitte vir goeie werk. Die boer se oog val op Neels se hartsnaar en in ’n sagte stem spreek hy sy waardering vir haar skoonheid uit. Hulle stap deur na die opstal en Lulu word oorgelaat aan Miems, stamboek boervrou van die plaas.

Alf gee weer opdrag: Nou gaan jy eers dryweropleiding met Jantjie doen, hy is my betroubare man agter die wiel. Neels is ’n bedrewe opleier en ’n halfuur later is hulle terug. Terwyl hulle aansit vir die beste boerekos ooit, draf die vyf en twintig tonner gelykmatig verby die opstal oppad na die Durbanmark. Ja nee, Jantjie weet van kieries gooi. Alf se studeerkamer het ook ’n onthaalhoekie. Neels en Lulu sit gemaklik styf op die Franse leunbankie. Het julle trouplanne, verwoord Miems haar gewaarwording. Alf is nie op die bek geval nie. Neels kan maar met sy Lulu trou, sy is ewe mooi soos jy toe ons na mekaar gevry het. Maar kan sy oom Sarels inlê? As ons die papierwerk afgehandel het, laai ek jou blik met wiele dat hy kreun van die perrekies! So gesê so gedaan. So skuins voor een is Neels en Lulu tuis by haar ma se huis. Nou waar was julle die heelnag, my kind? Ek het nie ’n oog toegemaak nie. Neels stel tannie Rykie gerus: My gesiene kliënt sê ek en Lulu kan maar trou, behalwe as sy nie oom Sarels kan inlê nie. Nou waar is die perskes, my kinders? trek Lulu se ma die matjie onder Neels se voete uit. Neels het die perskes ingedra en ma en dogter was beide uitblinkers in die eerste span.
LEES OOK: Die Lorriesmous: Cherry pickers, honeysuckers en Krismislorries
Om ’n oom Sarel in een skil te ontklee en die pitte sonder sukkel in die erdebak te versamel, moet gedoen word. Terwyl Neels homself verdiep in sy aanstaande se behendigheid, sweef hy weg na kammaland. Daar is stilte in die netjiese kombuis toe Neels net na ligdag terugkeer uit sy droomwêreld. Op die kombuistafel staan 48 inmaakbottels op hul kop. Alf se pasella offerhande het die knoop vir Neels deurgehaak om voetstoots met Lulu af te haak; tot nog toe sy grootste mahala!

Die Lorriesmous het ook sy terugslae gehad. Vanoggend loop hy vol verwagting by Bollie Naudé se kantoor in. Bollie het hom gister gebel en hom opgekommandeer vir die laaste verstelling aan sy kwotasie. Daar was sewe perde op die spel. Na net ’n halfuur is sy tjank afgetrap. Sy eweknie van die Pretoriatak bied ou voorraad pryse aan! Neels het Bollie gelukgewens met die besparing van amper vyftigduisend Rand. Vir sy eweknie het hy skalks gegrynslag en gesê: Maak net seker my kliënt kry nuwe batterye. Julle ou voorraad staan al amper twee jaar buite in wind en weer. Bollie was effens rooi op sy bles toe Neels groet. Nou sit Neels en wroeg in sy kantoor en sluk swaar aan die spreekwoord: leef en laat leef. Terwyl hy nog so wroeg en by homself prewel, gee Buks Koekies se jonger broer hom ’n kadoef tussen die blaaie. Moenie so dikbek lyk nie, ek het vir jou kom kuier, klink Henkie opgewonde. Hy wil seker weer ’n gunsie vir mahala kom optel, dink Neels. En hy is in die kol. Die saak staan so, verduidelik die kortgat. Ek en jy vat julle losperd en gaan haak die watertenk trailer wat ek gister by Duif se veiling gekoop het. Daar praat ek toe met Bollie wat my toe vertel dat hy sewe perde in Pretoria gaan koop. Jou prys was konsuis te hoog. Amper vervies Neels hom vir die voor-op-die-wa Koekemoer broertjie, trek sy leisels in en sê: Met die grootste graagte Henkie, dit sal jou net ’n lammetjie by Laoma kos.

Henkie roggel van die lekkerte en vra, een of twee lammertjies? Oppad na die Barrage se veilingperseel, gooi Neels ankers by die slaghuis. Henkie dog hulle sal die vleisie optel met die terugkom. Neels help hom reg: nou klim ons af en ek soek die die Karroo hameltjie uit en jy betaal hom. As ons terugkom met jou watertenk, stop ek en tel my skapie op. Henkie moes toegee anders sou Neels net daar omdraai. Dit was omtrent ’n geneukery om Henkie se tenk te haak en uit die deurmekaar veilingvoertuie te maneuver. Einde ten laaste verras Neels vir Loretta met die stewige verpakte Karroo hamel. My liefling, ek wou jou vanoggend nog sê dis tyd dat jy weer ’n trok aan ’n boer aflewer. Daar’s nog net ’n ribbetjie van Gerrie Nel se transaksie oor. Hierdie pasella, my vrou, bring ek van die Koekemoers se Barrageplaas af. Ek het vanmiddag ’n voetstootstransaksie afgehandel wat nie mahala was nie. So met die uitpak bemerk vroulief die Laoma stempels maar sê nie ’n dooie woord nie. Voor hom strek die oneindige blou einders terwyl die branders bruis en skuim oor sy rotsvriende. Neels bevind hom weer op die speelveld van die Lorriesmous. Die eindfluitjie sal nooit blaas nie. Hy tuur oor die uitgestrekte veld van ‘pasellas, voetstoots en mahalas’. Hier het dit fyntrap en vernuftige swenke geverg om die knoop deur te haak. Daar bestaan nie ’n handleiding vir hierdie skaakspel nie.

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.
A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad. On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.
Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten. He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.
HAVE YOUR SAY
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
