Die Pretorius-huishouding word die afgelope tyd alhoemeer bewus van stygende pryse, en hoe moeilik dit is om ons begroting te laat klop. ‘n Vriend met binne-inligting het ons meegedeel Suid-Afrikaners skuld banke en finansiële instellings dermiljoene rande, en klein sake-ondernemings vou die een na die ander. Dit raak alhoe moeiliker om bv. kinders groot te maak, want die koste daaraan verbonde is enorm. Ons wonder hoe die minder-gegoede lede van ons bevolking oorleef. Om nie te praat van die derduisende werkloses nie.
My swartgalligheid is vererger toe ek verlede naweek afkom op ‘n berig deur BusinessTech, die aanlyn-sakewebwerf. Daarin word uitgewys dat van Suid-Afrika se bekendste maatskappye, insluitend die Poskantoor, die SABC, MultiChoice en Cell C, tegnies insolvent is. ‘n Maatskappy is tegnies insolvent wanneer sy laste sy bates oorskry. Daar word dus in ‘n maatskappy se balansstaat aangedui dat sy netto waardasie nul is. Dit gebeur gewoonlik wanneer ‘n onderneming meer leen en skuld het as wat dit kan terugbetaal. Dis egter belangrik om daarop te let dat tegniese insolvensie verskil van werklike insolvensie, maw. wanneer ‘n maatskappy nie die nodige terugbetalings aan verskaffers of finansiële instellings kan doen nie.
BusinessTech wys daarop tegniese insolvensie is nie ‘n doodvonnis nie. Talle maatskappye was al in hierdie posisie maar kon die situasie omkeer. Dit kan egter net gedoen word wanneer drastiese stappe gedoen word. Byvoorbeeld betekenisvolle kostebesnoeiïngs, verkryging van nuwe kapitaal, of ‘n kombinasie van albei. ‘n Goeie voorbeeld hiervan in Suid-Afrika is Pick n Pay. Die baie bekende maatskappy se jongste finansiële resultate wys dit is tegnies insolvent. Om sy balansstaat te versterk is ‘n geslaagde regte uitgifte-program begin waarmee R4-biljoen geïn, skuld gedelg en die balansstaat versterk sal word. Die maatskappy gaan sy Boxer-winkels ook ontbondel en afsonderlik op die aandelebeurs lys in ‘n aanvanklike openbare aanbod wat na verwagting R6- tot R8-biljoen rand sal oplewer. Daarbenewens word kostes ook gesny deur 112 Pick n Pay-winkels, hoosaaklik korporatiewe winkels, te sluit of te herklassifiseer.
Die SABC se jaarverslag van 2023/24 toon dat die nasionale uitsaaier ook tegnies involvent is. Dit gaan baie moeilik wees om hierdie situasie om te keer, verklaar BusinessTech, want die korporasie se gehoor krimp, en alhoe minder mense is bereid om TV- lisensies te betaal. Die SABC sê omdat die betaling van TV-lisensies nie afgedwing kan word nie, het die persentasie nie-betalers tot 85.60% gestyg. Die jaarverslag toon gevolglik ‘n verlies (voor rente en belasting) van R192-miljoen. Die korporasie weet nie of hy al sy verpligtinge oor die volgende 12 maande sal kan nakom nie, hoewel streng besparingsmaatreëls ingestel gaan word, insluitend die opskorting van meer as 80% van sy langtermyn kapitaalplanne en die beperking van inhoudskoste.
In die geval van Cell C het die maatskappy se finansiële state vir 2024 getoon dit bly tegnies insolvent met bates van R14.l-biljoen teenoor laste van R17.3-biljoen. BusinessTech wys daarop hoewel daar steeds groot uitdagings is, het ‘n proses van herkapitalisasie en kostebesnoeiïngs Cell C se balansstaat verbeter. Die maatskappy se uitvoerende hoof, Jorge Mendes, het gewaarsku dis Cell C se laaste kans op oorlewing, want dit kan nie aanhoudend geld in die mark gaan soek nie.
MultiChoice se finansiële state vir die boekjaar wat op 31 Maart geëindig het, toon dat sy bates verminder het, en dit met ‘n negatiewe ekwiteit van R1.068-biljoen gelaat het. Een van Multichoice se probleme is sy langtermyn-lenings, wat oor die afgelope jaar van R8-biljoen tot R12-biljoen gestyg het. Anders as die ander maatskappye wat tegnies insolvent is, sê BusinessTech, het Multichoice nie ‘n omvattende plan om die situasie te beredder nie. Pleks daarvan plaas Multichoice sy toekoms op die Franse mediareus Canal+ wat in die proses is om die Suid-Afrikaanse maatskappy te koop. Albei die entiteite is besig met die nodige stappe om die transaksie moontlik te maak, insluitend die nodige regulatoriese-goedkeurings. Indien hierdie transaksie deur die mat val, sal Multichoice in baie ernstige finansiële moeilikheid wees en waarskynlik met regte-uitgifte probeer om sy somber balansstaat te verbeter.
Die Suid-Afrikaanse Poskantoor se balansstaat het oor die afgelope jare drasties agteruitgegaan, ten spyte van biljoene rande regeringsgeld om dit staande te hou. Die bates het binne drie jaar van R16.07-biljoen tot R4.5-biljoen geval, en die laste het oor vyf jaar tot R12.7-biljoen verlede jaar, gestyg. Die Poskantoor is dus ook tegnies insolvent en sal nie sy laste kan dek indien sy bates gelikwideer word nie. Sy sakereddingspraktisyns het ‘n plan voorgestel om personeel en takke te verminder, maar indien addisionele geld nie bekom kan word nie, sal die Poskantoor in elk geval sy deure moet sluit. Dit beteken al sy personeel sal werkloos wees en dienste gestaak word.
Die bg. prentjie is maar donker, en hoewel van hierdie maatskappye, veral Pick n Pay en Multichoice, sal kan oorleef, bring dit nogtans groot bekommernis, ontwrigting vir hul personeel en onsekerheid by hul klante mee. Die mismoedigheid In die Poskantoorgange kan ek my net voorstel.
‘n Mens kan bloot hoop vir die beste moontlike uiteinde van hierdie dilemmas. Dit bewys nietemin opnuut dat Suid-Afrika nie net swak topbestuurslede in sy staatsdepartemente het nie.
HAVE YOUR SAY
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
