Wees ter wille van die Here onderdanig aan elke menslike instelling en doen goed in die samelewing. So skrywe die apostel Petrus in 1 Petrus 2:13-17 aan Christene wat sleg behandel is deur die gemeenskappe waarheen hulle verstrooi is oor die wêreld heen.
Ten spyte daarvan dat hulle deur die owerhede vervolg is, dat hulle onregverdig behandel is, roep hy hulle steeds op om voorbeeldige burgers te wees van die Romeinse staat. Die Romeinse staat het baie goeie goed gedoen soos die goeie infrastruktuur, orde en dissipline wat eie was aan die Romeine.
Jy het egter nie baie beweegruimte gehad nie. Geweld is gebruik om burgers tot orde te roep. Tog is die Christene selfs te midde van uitlokking en vervolging, opgeroep om model burgers van die samelewing te wees. Hulle moes almal met respek behandel, ter wille van die Een wat hulle gevolg het. Dit sou mense trek na Jesus toe.
Ons leef vandag in ’n demokratiese staat, maar daar is ook maar talle uitdagings wat die Christen in die gesig staar. Die vraag is hoe ons getuig teenoor mense in mags en gesagsposisies. In ons persoonlike lewens glo ek ook is daar baie uitdagings.
Ons lewe in ’n gebroke wêreld. Hoe maak ons? Wat se Petrus vir ons vandag om ons so bietjie moed te laat skep? Hy sê dat ons ter wille van die Here moet aanhou goeddoen. Daar waar ons leef en woon en werk. Christene kan die voortou neem in hul gemeenskap. Selfs net die sny van jou eie sypaadjie is ’n getuienis dat jy anders is.
In ’n donker wêreld of omgewing waar dinge maar swaar gaan, word ons as Christene geroep om ons liggies helder te laat skyn. Doen goed selfs al leef jy in ’n hopelose en godlose wêreld. Natuurlik moet jy God steeds meer gehoorsaam wees as mense, maar ons persoonlike getuienis en ons getuienis as Christene moet van so ’n aard wees dat teenstanders al wil hulle nie, aan God die eer sal gee vir ons voorbeeldige gedrag.
Kyk waar jy kan bou en nie breek nie, bid en moenie vervloek nie, Tree op en moenie net kla nie. Wat kenmerk jou optrede in die samelewing?
HAVE YOUR SAY
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
