BlogsOpinion

Wouter se Watergat

Dis nou hoe die Sharks moet speel!

Die gemoedere van die Sharks-ondersteuners onder ons het verlede naweek ’n hupstoot gekry met die skitterende VRK-oorwinning van die Durbanse span oor die Munster, een van die Ierse spogspanne.
Tot en met Saterdag, het die Sharks net een oorwinning uit drie wedstryde op rekord gehad, en was hul beeld alles behalwe dié ‘n gevaarlike topspan. Munster, die vorige seisoen se kampioene, het verlede jaar juis op Kingspark ’n agterstand uitgewis en ’n gelykoptelling teen die Sharks afgedwing, wat die Durbaniete in die agtste plek laat eindig en effektief uitgeskakel het.

In Saterdag se wedstryd het die Iere later in die wedstryd beter gespeel, maar die verskil was net te groot. Die sleutel tot die Sharks se sukses was natuurlik die terugkeer van hul talle Springbokke. Wanneer die Sharks met sy beskikbare Springbokke speel, is hulle beslis die indrukwekkendste span in Suid-Afrika. Op papier. Saterdag was hulle op die veld ook skouspelagtig met hul uitstekende spel.
Leinster is op die oomblik die span bo-aan die puntelys met ses oorwinnings, en die span wat geklop moet word deur wie ookal die kompetisie wil wen. Leinster, is reeds van vroeg in die kompetisie af ‘gelaai’ met Ierse internasionale spelers, en die Lions het goed gedoen deur Saterdag nie deur hulle oorrompel te word nie.

Die Sharks se kwota internasionale spelers was Saterdag eers op volle sterkte. Die afrigter, John Plumtree, het daarop gewys daar is gereeld uitdagings wat te bowe gekom moet word. Benewens beserings, moet Springbokke ruskans gegee word. Hy kan verstaan dat die ondersteuners wil hê die span moet altyd wen, maar die werklikheid is dat die Sharks nooit deurentyd op volle sterkte kan wees nie.
Plumtree meen die Sharks kan wel sonder hul Bokke wen, maar dit is moeilik om dit sonder al die Bokspelers te doen. Die Sharks moet net verseker dat hulle die uitspeelwedstryde haal, wanneer hulle dan op volle sterkte sal wees. Daar is geen rede waarom hulle nie sowel die VRK as die gesogte Kampioenebeker kan wen nie.
Die Bulls het deurgeskraap teen Benetton, en die Stormers is goed deur Glasgow afgeransel. Hierdie SA-spanne en die Lions se kanse is egter ‘n gesprek vir ’n ander dag.

Ons loopstorie kom van Pietie Greyvenstein van Bethlehem.
Gatiep se HOP-huisie is so klein, as ’n dronk man val tref hy nooit die grond eerste nie. Dit het egter sy nadele. Soos die dag toe Gatiep vir Meraai deur die tuinhekkie sien kom.
Hy het geweet daar is net een rede, sy soek daai R10 wat hy in 2004 by haar geleen het.
Die huisie is te klein vir wegkruip.
Gatiep het egter ’n uitweg gesien. Hy sê toe een van sy broerskinders (dié se familie het by hom ingewoon) om vir Meraai te sê hy is sjebien toe.
Gatiep het agter sy reënjas gaan staan wat aan ’n hanger teen die muur hang.
Toe Meraai die nuus kry, het sy in die rigting van die reënjas gekyk en vir die laaitie gesê: “Sê jy vir daai tor, volgende keer as hy sjebien toe gaan, moet hy tog onthou om sy voete ook saam te vat.”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button