BlogsOpinion

Die ‘oorlog om alle oorloë te beëindig’, herdenk

Die oorlog was ook die katalisator vir die Russiese rewolusie, wat later gevolg is deur sosialistiese en kommunistiese rewolusies in ander lande soos Kuba en China.

Die sluiting van vrede na die Eerste Wêreld-oorlog is verlede Sondag herdenk met Gedenkdag, of soos dit op Engels genoem word, Remembrance Day, 110 jaar nadat die oorlog in 1914 uitgebreek het.

Dit het die uwe se gedagtes laat teruggaan na geskiedenisklasse in my studentedae en die absolute weersin wat in my jeëns die ongelooflike ongevallesyfers en koelbloedigheid van die bevelvoerders wakker gemaak is. Hoewel die ongevallesyfers in die Tweede Wêreldoorlog hoër was, is die manier van oorlogvoering en die ongeërgdheid waarmee miljoene jong mans daagliks na hul dood gestuur is, uniek in die wêreldgeskiedenis. Die oorsake van die oorlog was baie ingewikkeld, het baie jare geduur, die stryd het die hele Europese landskap en wêreldorde drasties verander, en inderwaarheid die grondslag gelê vir die Tweede Wêreldoorlog.

Om my voorneme gestand te doen om ‘n verskeidenheid onderwerpe ter wille van afwissekling in hierdie rubriek te behandel, is die fokus vandeesweek op die oorsake van die ‘Groot Oorlog’, of die ‘Oorlog om alle oorloë te beïndig’, soos dit destyds genoem is. Die sluipmoord op aartshertog Frans Ferdinand, die troonopvolger van Oostenryk-Hongarye, in Sarajevo, Bosnië en Herzegowina, op 28 Junie 1914 deur ’n pro-Serwiese nasionalis, was bloot die vonk in die kruitvat.
Dit was die gevolg van ’n komplekse netwerk van alliansies en teenkragte wat ontwikkel het tussen verskeie Europese magte ná Frankryk se nederlaag in die Frans-Duitse oorlog en die totstandkoming van die Duitse eenheidstaat onder Otto von Bismarck in 1871. Hierna het Duitsland, Oostenryk-Hongarye en Rusland in 1873 die Driekeiser-verbond gestig. Dit het weens meningsverskille misluk, In 1879 het Duitsland en Oostenryk-Hongarye die Tweekeiser-alliansie tot stand gebring en in 1882 het Italië by die alliansie aangesluit, wat dit in die Drievoudige Verbond verander het.

Op die sg. Kongokonferensie van 1884/85 is ooreengekom op die koloniale verdeling van Afrika, in 1892 het Frankryk met Rusland ’n alliansie gestig as opposie vir die Tweekeiser-alliansie, in 1904 het Frankryk en die Verenigde Koninkryk die Entente Cordiale gevestig en in 1907 het Rusland en die Verenigde Koninkryk die Anglo-Russiese Alliansie onderteken. Om sake verder te kompliseer, het Oostenryk-Hongarye die Bosniese krisis van 1908/09 ontketen deur die amptelike anneksasie van die voormalige Ottomaanse grondgebied Bosnië en Herzegowina. Dit het die argwaan van die Koninkryk van Serwië en sy beskermheer, die Pan-Slawiese en Ortodokse Russiese Ryk, veroorsaak. In die Italiaans-Turkse Oorlog van 1911/12 het Italië, die Dodekanes, Tripolitanië en Sirenaika ( die huidige Libië ) van die Ottomaanse Ryk verower.

Steeds was dit nie die einde nie. In 1912/13 was die Balkan-Alliansie en die Ottomaanse Ryk in die Eerste Balkan-oorlog betrokke. Die Verdrag van Londen het die Ottomaanse Ryk verder laat krimp, die stigting van ’n Albanese staat voorgestaan, asook die uitbreiding van die gebiede van Boelgarye, Serwië, Montenegro en Griekeland. Toe Boelgarye Serwië en Griekeland in 1913 aanval, het die land in die Tweede Balkan-oorlog die grootste deel van Masedonië, Serwië en Griekeland aan Roemenië verloor, wat die streek verder gedestabiliseer het.

Die sluipmoord op Aartshertog Ferdinand in 1914 het ’n diplomatieke krisis tussen Oostenryk-Hongarye en die Duitse Keiserryk aan die een kant, en die Russiese Ryk, Frankryk en die Verenigde Koninkryk aan die ander, veroorsaak. Oostenryk-Hongarye het in Julie 1914 ’n onaanvarbare ultimatum van tien punte aan Serwië gestel, lg. het net agt punte aanvaar, waarna Oostenryk-Hongarye met die ondersteuning van Duitsland oorlog teen Serwië verklaar het. ’n Dag later het Rusland begin mobiliseer. Op 1 Augustus het Frankryk dieselfde gedoen, het Duitsland op dieselfde dag oorlog teen Rusland verklaar, en op 3 Augustus teen Frankryk.

Die Ottomaanse Ryk het die Sentrale Moondhede in die oorlog gesteun nadat die geheime Ottomaans-Duitse Alliansie op 2 Augustus onderteken is. Nà die Duitse inval in België en Luxemburg het die Verenigde Koninkryk op 4 Augustus oorlog teen Duitsland verklaar. Die Eerste Wêreld-oorlog het in alle erns begin.

Oor die volgende vier jaar is dermiljoene mense dood, Op 29 September 1918 gee Boelgarye oor, op 30 Oktober Oostenryk-Hongarye en op 11 November die Duitse Keiserryk. Geen ander oorlog het die politieke landskap van Europa so drasties verander nie. Vier ryke het tot ‘n val gekom – die Duitse, Russiese, Oostenryk-Hongaarse en Ottomaanse Ryk. Die laaste twee het ophou bestaan. In 1917 het die Sowjet-Unie uit die Russiese Rewolusie ontstaan, en is die kaart van Europa is heeltemal oorgeteken met die ontstaan van verskeie kleiner lande. Ingevolge die verdrag van Versailles in 1919 het Duitsland ’n Republiek geword, en is die beheer van verskeie streke, eilande en kolonies aan nuwe lande gegee, te veel om hier op te noem. Amerika het in die laaste stadium van die stryd ‘n sleutelrol gespeel.

Die manier waarop die vrede gesluit is, veral die manier waarop Duitsland verneder is, het egter die saad geplant vir die tweede wêreld-konflik twintig jaar later. Die na-oorlogse pogings om die baie van die oorsake en gevolge van die oorlog van 1914/18 te hanteer, het onder meer gelei tot die ontstaan van Fascisme in Italië en Nazisme in Duitsland. Die oorlog was ook die katalisator vir die Russiese rewolusie, wat later gevolg is deur sosialistiese en kommunistiese rewolusies in ander lande soos Kuba en China. Die Volkebond wat nà die Eerste Wêreld-oorlog gestig is om nog ‘n oorlog te verhoed, was tevergeefs.

Wanneer die huidige wêreldgebeure gadegeslaan word, en die pad wat tot hier na die Tweede Wêreldoorlog geloop is, ontstaan die onwikkeleurige vraag: Wanneer begin Nommer Drie?

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button