BlogsOpinion

Wouter se Watergat: Ons maak ons gereed vir ‘n wonderlike Feestyd

"Intussen hoop ons en die ander gasvryheid-ondernemings hier aan die kus dat ons seisoen goed sal wees, ten spyte van die gebrekkige dienslewering van die munisipaliteite by tye, en die koste van brandstof en tolgeld."

Ons is reeds besig om te beplan vir die Kersvakansie en vroulief is druk besig om voorraad vir die vrieskaste te bestel. Ekself het reeds die hoeveelhede vir die drankbestellings uitgewerk, die nodige spasie in die pakkamer beskikbaar gemaak, en die vries- en yskaste laat versien. Ook ons daaglikse ysbestellings geplaas vir een van die groot vrieskaste, want ons het nie ruimte vir ons eie ysmasjien nie, en hulle is in elk geval geneig om op die mees kritieke tye onklaar te raak.

Intussen hoop ons en die ander gasvryheid-ondernemings hier aan die kus dat ons seisoen goed sal wees, ten spyte van die gebrekkige dienslewering van die munisipaliteite by tye, en die koste van brandstof en tolgeld. Ten spyte van hierdie negatiewe faktore, is veral die laer KZN-Suidkus nog steeds die beste waarde vir geld vir vakansiegangers uit Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en die Vrystaat. Die Oos- en Wes-Kapland is net te ver vir die koste van ’n rit per motor. Ons was die afgelope tyd nie baie besig nie, wat normaal is vir hierdie tyd van die jaar, veral omdat die weer nie altyd van die lekkerste is nie, en ons hoop indien dit gereeld begin reën, dat ons minstens van die middel van Desember af sonnige dae sal hê.

Die onderwerpe van bespreking was nogal wydlopend, van die Amerikaanse verkiesing af tot die twee huidige oorloë en natuurlik sport, meesal rugby. In die gesprekke oor Amerika het die humeure dikwels opgevlam, en ons het weereens besef met Donald Trump is daar geen middeweg nie. Of jy verpes hom, óf hy is jou held. Amper sê ek messias. Daar is geen middeweg nie.

Insake die Israelse optrede in Gaza was dit opmerklik dat mense wat voorheen geharde, getroue ondersteuners van Israel was, nou begin wonder of die land nie sekere perke oorskry en dalk oorlogsmisdade pleeg, ook in Libanon, nie. Die lekkerste gesels was natuurlik weereens oor die Springbokke se vertonings in Brittanje. Dit was lekker om te sien hoe hulle die Engelse span goed klop, al het hulle nie op alle silinders gevuur nie.
Die konsensus was dat Cheslin Kolbe nou die wêreld se beste rugbyspeler is, en nie meer Antoine du Pont van Frankryk nie. Met Pieter-Steph du Toit en Eben Etzebeth nie ver agter nie. Nou vir Wallis, en speelkans vir die spanlede wat nog nie wedstryde gespeel het nie. My voorspelling is ’n oorwinning met minstens 20 tot 25 punte. Ons het ook oor die Protea-krieketspan gepraat. Hoe minder oor hulle T20-vertonings teen Indië gesê word, hoe beter. Die konsensus was: ‘Fire die afrigter’.

Ons loopstorie kom van Jan Coetzee van Port Edward.
Op Moedersdag vra twee kinders hul ma om in die bed te bly. Onderwyl sy in die bed lê kry sy die geur van spek wat gebraai word en sien uit na wat kom.
Nà ’n halfuur gebeur niks, en sy gaan kombuis toe om ondersoek in te stel.
Die kinders het pas hul borde teruggestoot na ’n lekker maaltyd.
“Ons het besluit om mamma te verras op Moedersdag en nie moeite aan te doen nie. Ons het ons eie brêkfis gemaak.”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button