Welslae maar ook groot probleme met Vigs in KZN
Met die bekendstelling van die provinsie se jongste HIV-verslag is gevra vir ingrypings om vroue te bemagtig en optrede deur tradisionele leiers om veilige seksuele praktyke te bevorder sodat die aanhoudende verspreiding van die virus in die provinsie gestop kan word.
Verlede Sondag was die aandag wêreldwyd op HIV-Vigs en die jongste statistiek vir die verskillende lande. Om die internasionale Vigs-dag vooraf te gaan, het die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing van Suid-Afrika die jongste inligting bekend gemaak oor die stand van sake ivm. hierdie virusbesmetting in KwaZulu-Natal.
In ’n verslag geskryf deur Jessie-Lee Smith verklaar sy hoewel die provinsie baie goed gevaar het ten opsigte van anti-retrovirale behandeling en voorkoming van die siekte, ondervind KZN steeds probleme met ongelykhede onder kwesbare groepe. Jong mense en vroue word disproporsioneel geaffekteer as gevolg van negatiewe sosio-ekonomiese faktore en riskante seksuele gedrag deur mans. Met die bekendstelling van die provinsie se jongste HIV-verslag is gevra vir ingrypings om vroue te bemagtig en optrede deur tradisionele leiers om veilige seksuele praktyke te bevorder sodat die aanhoudende verspreiding van die virus in die provinsie gestop kan word.
Statistiek bewys in vergelyking met ander provinsies, het KZN in 2022 die tweede hoogste HIV-koers en die meeste mense met HIV, naamlik 1,980,000 gehad. Nietemin, die provinsie het ook die beste presteer ten opsigte van die mense wat van hul status bewus is, wat anti-retrovirale behandeling ontvang, en wat redelik normale lewens agv. daarvan lei. Tydens die RGN se sesde nasionale HIV-konferensie in Durban in September, het die raad se professor Khangelani Zuma verklaar KZN se anti-HIV-programme is van die suksesvolste in die land. Prof. Zuma het daarop gewys wanneer die welslae met HIV-behandeling beoordeel word, is nie net die getal mense wat met die virus besmet is, belangrik nie, maar ook die proposrie van hulle wat hul medikasie so gereeld neem dat hulle nie die virus kan oordra nie.
Ander sprekers het verwys na die verskillende inisiatiewe wat bydra tot suksesvolle behandeling. Een voorbeeld is die sg. ‘happy hour’ vir mans by sommige plaaslike klinieke waar hulle nie hoef tou te staan nie, maar bloot kan inloop en onmiddellike behandeling kry. Ander het daarop gewys dat KZN ook die hoogste proporsie mediese besnydings het van mans, naamlik 87.6% van alle operasies.
Tradisionele leiers moedig hierdie mediese besnydings aan, en sprekers het geredeneer dat hulle ook ander goeie gesondheidsgewoontes kan aanmoedig soos veilige seksgewoontes deur jong mans. Statistieke bewys dat mans hulle meer dikwels skuldig maak aan riskante seksuele gedrag as vroue. Net meer as twaalf persent mans het seksuele omgang voordat hulle 15 jaar oud is vergeleke by 4.8% vroue. Die moontlikheid dat mans verklaar hulle het verskeie seksuele maats, is ses keer groter as vroue. Net meer as 18% mans, in teenstelling met 3.5% vroue, het aangedui hulle het veelvuldige seksuele maats.
In verband met die ongelykhede in die behandeling van mense en sukses met die onderdrukking van die virus in die verskillende ouderdomsgroepe, het prof. Zuma verklaar slegs 62.8% van jong mense besmet met die virus, word behandel, en slegs 74% van diegene wat behandel word, versprei nie meer die virus nie. Jong mense en kinders is dus ‘n groot probleem. ’n Dosent van die Universiteit van KwaZulu-Natal, Silingene Ngcobo, het die belangrikheid van intervensies deur ouers beklemtoon.
Ouers is aangemoedig om betrokke te raak by seks-opvoeding en openlike kommunikasie oor swangerskap, en seksueel-oordraagbare infeksies. Ouers moet betrokke raak voordat hul kinders seksueel-aktief word.
In hierdie opsig het ander sprekers voorgestel dat programme aan moeders beskikbaar gestel word om hulle te bemagtig om met hul kinders oor hierdie onderwerpe te praat. Kinders wat self hul diagnoses ontvang moet aangemoedig word om dit met hul ouers of beskikbare volwassenes te deel. Die kommunikasiegaping moet uitgeskakel word, en die relevante boodskappe moet deur die owerhede so sterk soos met Covid-19 uitgestuur word. Op TV, selfone en in advertensieflitse.
Die voorkoms van HIV-vigs verskil ook tussen geslagte. Prof. Zuma het aangetoon onder jong vroue tussen 15 en 24 was dit 9.3%, amper drie keer meer as by mans met dieselfde ouderdomme. In die ouderdomsgroep 25-49 onder vroue, was die syfer 38.4%, amper twee keer die 21.5% onder mans. Leiers in KZN is jare lank reeds bewus van die sg. ‘blessers’ wat hul geld gebruik om ekonomies-kwesbare vroue uit te buit vir seksuele gunste.
Werkloosheid dra hiertoe by, en vroue loop die risiko van HIV-besmetting ter wille van oorlewing. Selfs vroue en jong meisies wat nie finansiële probleme het nie, kom onder groepsdruk en aanvaar bv. duur kosmetiese prosedures, haarsalonbesoeke en selfone in ruil vir seksuele gunsies.
’n Navorser van die Universitreit van KZN, Ayanda Khumalo, het gevra dat vroue blootgestel word aan sport, buitemuurse aktiwiteite en gemeenskapsruimtes weg van skool en werkplekke. Jong vroue, veral in die swart gemeenskappe, het nie toegang tot ’n derde plek, ‘n plek buiten die skool of blyplek nie, dus probeer hulle by hul mansvriende afleiding kry. Hul beland dan in verhoudings en is seksueel aktief omdat hulle verveeld is.
Hoewel vroue soms geleer word om hul omstandighede te verander, gebeur dit nie met mans nie. Daarom moet dieselfde inisiatiewe tov. van mans aan die gang gesit sodat hul gedrag aangepas kan word. Hul ouers moet ook betrek word sodat hul emosionele intelligensie verbeter om te verhoed dat hulle deurentyd ‘agter meisies aanhardloop’.
Voorwaar insiggewende inligting oor ’n probleem wat nog lank met ons gaan wees.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
