BlogsOpinion

Oom Pottie se rugby-nostalgie uit die ou dae

Wanneer jy hom vra wie die drie beste agterspelers is wat hy in sy lewe in aksie gesien het, noem hy sonder aarseling Tony O’Reilly van Ierland, wat in 1955 net 19 jaar oud was, Danie Gerber en Carel du Plessis.

Oom Pottie het ‘voor die tsunami ons tref’, soos hy dit gestel het, vir ’n week Gauteng toe gereis vir ’n besoek aan sy dogter in Germiston (hy verseg om na Ethekwini te verwys) netsoos hy weier om te praat van Emiratespark in Johannesburg. ‘Dis Ellispark, finish en klaar.’

Soos lesers van hierdie rubriek en Watergatbesoekers sal weet, hy is reeds amper 90 jaar oud, maar nog heel skerp en redelik beweeglik. Ten spyte van ’n kniebesering baie jare gelede op die einste Ellispark toe hy nog vir Simmer en Jack gespeel het. Teen destydse bekendes soos Mannetjies Gericke, Fanie Kuhn en Wilf Rosenberg. Al die pad Johannesburg toe alleen in sy 1984-Cressida, ’n blink rooie met die kanniedood sessilinder-enjin.

Hy het, soos gebruiklik, by Ellispark ’n draai gaan maak ‘om die nostalgie te voed’. Hulle ken hom so goed daar, hy daag op ’n oggend op wanneer die Lions nie oefen nie, vra toestemming om op die veld te gaan, en loop op sy eie vir dertig minute of so rond totdat hy genoeg gehad het.
Hy gaan staan ook op die presiese plek, hy sê hy weet waar dit is, waarvandaan die heelagter Jack van der Schyff in 1955 met die Quinns-gebou in die agtergrond, die vervyfskop gemis en die Bokke die eerste toetswedstryd teen die Britse Leeus laat verloor het.

Wanneer jy hom vra wie die drie beste agterspelers is wat hy in sy lewe in aksie gesien het, noem hy sonder aarseling Tony O’Reilly van Ierland, wat in 1955 net 19 jaar oud was, Danie Gerber en Carel du Plessis.

Pottie het ook vir sy kleindogter in Honeydew, Roodepoort gaan kuier, en met sy terugkeer steen en been gekla oor die slaggate in die paaie, die talle verkeersligte wat nie werk nie, ten spyte daarvan dat daar nie beurtkrag is nie, en die gedrag van die minibus-taxibestuurders.

‘Woutie, ons dink ons het probleme met hulle hier aan die Suidkus. Jy moet sien hoe ry hulle daar. Doen net wat hulle wil, waar hulle wil, en is totaal onaantasbaar’. Sy ander klagte was ook weereens die stedelike verval in die deel van Johannesburg waar Ellispark geleë is. Wat kan ‘n mens sê? The story of our country.

Ewenwel, lekker rugby gekyk verlede naweek, bly Manie Libbok het ’n nederlaag vir die Stormers uit die kake van ’n oorwinning teen die Sharks geruk, bly vir die Blou Bulle en teleurgesteld namens die Lions, wat goed gespeel maar te veel foute teen Munster begaan het.

Ons eerste vakansiebesoekers het reeds aangekom, en ons hoop op ’n goeie seisoen. Die vries-, die yskaste en die voorraadkamers is vol. Die weer en die munisipale diensverskaffers moet net saamspeel.

Twee kort loopstorietjies uit Pottie se argief.

Nommer een: “Dokter, my kleptomania is steeds buite beheer. En deesdae steel ek al wat ’n slimfoon of klein rekenaar is.”

“Wees net rustig en neem die tablette.”

Nommer twee: Sy ma is so kort, jy kan haar voete op haar rybewysfoto sien.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button