Soos die uwe voorheen in hierdie rubriek verklaar het, ek is ’n groot diere-, en meer spesifiek, hondeliefhebber, en het op ‘n vroeë leeftyd met katte, honde en vee-artse kennis gemaak by die Vereniging vir die Beskerming van Diere in Roodepoort, soos die SPCA destyds op Afrikaans bekend was. Naweke gehelp met werkies by die hokke soos kos aandra en poef weggooi. Ook teenwoordig by enkele operasies toe die sterilisering van tewe die verwydering van die hele baarmoeder behels het.
Ek onthou die eenvoudige, klein ontvangskamers van die plaaslike toegewyde veeartse van destyds. Hierdie herinneringe het by my opgekom toe ek tydens die Kersseisoen een oggend in Randburg naby my seun-hulle se woning by ‘n veeartspraktyk aangedoen het met ons 11-jarige Maltesertefie wie se regter-agterbeen uit lit uit was. Ek het besef die hondjie, genaamd Liefie, het dringend aandag nodig.
Die praktyk was druk besig, en ek moes my beurt geduldig afwag. Dit het my die geleentheid gegee om waar te neem wat in ’n besige praktyk, in die digsbevolkte woongebied van Suid-Afrika aangaan, in teenstelling met dié van my kinderjare. Ook met besoeke aan veeartse hier aan die Suidkus. Daar was nie onmiddellik sitplek beskikbaar nie, en ek moes ‘n ruk met Liefie in my arms staan voordat ek sitplek gekry het.
Soos in my jong dae, het mense ingekom met bekommerde uitdrukkings op hul gesigte en siek of grysgesig-diere in hul arms. By die ontvangstoonbank is hulle deur een van drie ontvangsdames verwelkom en vriendelik meegedeel hulle sal geroep word wanneer die volgende vee-arts beskikbaar is. Daar was ses vee-artse op diens, en het gereeld met eienaars en honde by drie verskillende deure uit die agterkamers tevoorskyn gekom, met hulle gepraat oor die medikasie van hul diere, na die ontvangspersoneel verwys, en met nuwe pasiënte en hul eienaars na die hospitaalsaal teruggekeer.
Wat my beïndruk het, was die ooglopende omvang van die praktyk se werksaamhede. Ek het in die uur waartydens ek moes wag, 25 diere getel wat vir behandeling agtertoe geneem is, onderwyl nuwe aankomelinge gereeld opgedaag het. Ek het naby genoeg aan die ontvangstoonbank gesit om te hoor dat die gemiddelde koste per pasiënt vir minder ernstige behandelings, in die omgewing van R500/R600 rand was, maar daar was verskeie ander eienaars wat duisend tot twee-duisend rand vir meer ernstige kwale en medikasie moes betaal.
Ek het besef die omset van die praktyk moet baie groot wees, want ‘n eenvoudige sommetjie wanneer jy die koste van operasies en dierehospitaal-huisvesting in berekening bring, lewer ’n indrukwekkende maandelikse totaal. Die bedryfskoste sal natuurlik eweneens baie hoog wees.
Uiteindelik is ons deur ’n jong vroue-veearts agtertoe geneem, en ek het aan haar verduidelik Liefie het saam met haar maat Fluffy vinnig langs ’n heining afgehardloop. Toe hulle ’n hondjie aan die anderkant hoor blaf, en het Liefie vinnig omgeswaai, luid getjank, en gaan sit. Sy kon nie op haar egter-agterbeen trap nie. Die vee-arts het die been bevoel, en onmiddellik bevind dit is is by die ‘kniegewrig’ uit lid uit met ‘n geskeurde ligament, iets wat redelik algemeen voorkom.
Net ’n operasie kon dit regstel. My tweede grootste vrees is bewaarheid, en ek doen navraag oor my eerste grootste vrees. Wat dit gaan kos? Die vee-arts het mooi verduidelik, met behulp van visuele beelde van ’n hond se agterbeen, wat gedoen moet word en hoe redelik ingewikkeld die prosedure is. Ek was tevrede, maar terselfdertyd verbaas om te hoor dat ’n hond ook knieskywe het.
Die oomblik van waarheid het aangebreek. Wat kos dit? Tussen R8 000 en R8 400 rand, het sy verduidelik. Dit sluit die narkose, medikasie en hospitaalverblyf vir twee dae in. Wat sal gebeur indien ons dit nie kan bekostig nie? Haar te-wagte antwoord was dan sal Liefie vir die res van haar lewe op drie bene moet staatmaak, en die beseerde been se spiere sal wegkwyn.
Ek het die veearts bedank, meegedeel ons sal laat weet, en is vort. Die vraag maal toe in my kop: Is dit die moeite werd om soveel geld te betaal vir ’n operasie aan die been van knieskywe ’n 11-jarige Malteser, veral omdat sy geen pyn ervaar nie?
Twee dae later bel ek om te verneem of daar enige ander kostes is, en die ontvangsdame beveel aan dat ek die dienste van ’n fisio-terapeut gebruik om Liefie te help met die herstelproses. Wat kos dit? R5 000, kom die antwoord. Nee dankie! En hoe gaan hulle seker maak Liefie sal die narkose oorleef? ’n Bloedtoets, indien ek dink dis nodig, wat sal bepaal of haar organe sterk genoeg is. En die koste? ’n Bykomende R950.
Om ’n lang storie kort te maak: Ons kon nie ons Liefie versaak nie, al was dit raap en skraap om die bedrag bymekaar te maak. Sy is geopereer, lyk baie jammer vir haarself met die plastiek-kegel om haar nek om te keer dat sy aan die operasiewond byt, en haar kaalgeskeerde been. Intussen is daar R9 450 minder in my bankrekening.
Die Pretoriusse is beslis nie die enigstes met wie so-iets gebeur het nie, en die antwoord lê ooglopend in die uitneem van toepaslike versekering. Daar is deesdae verskeie maatskappye wat dit aanbied, en lyk vir my onontbeerlik in hierdie tye. Ons moet net behoorlik navorsing doen om die beste opsies te ontgin.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
