Suid-Afrikaners verflenter mekaar in sosiale media-gevegte
Soms vloekwoorde wat ’n matroos sal laat bloos. Die meningsverskille is verstaanbaar.
Iets wat die uwe lankal hinder, is die hewige bekgevegte wat Suid-Afrikaners daagliks met mekaar op die sosiale media voer. Nie soseer die meningsverskille nie, maar die manier waarop die debatte gevoer word. Heftig. Vol skeltaal. Kras beledigings. Soms vloekwoorde wat ’n matroos sal laat bloos. Die meningsverskille is verstaanbaar. Ons lewe in tye van groot omwentelinge, onsekerhede en polarisering wat meebring dat mense in verskillende kampe is om verskillende redes. Politiek speel ’n rol. Godsdiens speel ’n rol. Persoonlike voorkeure speel ’n rol. Wat daartoe lei dat mense hulself in kampe plaas en verbete veg teen dit wat hulle beskou as ‘die vyand’.
Wanneer ek dit sê, doen ek dit nie met ’n stralekransie op my kop nie. Inteendeel, ek was self al vele kere betrokke by heftige debatte, veral oor die nuwe president in die Withuis. Dis opmerklik hoeveel heftige sosiale media-debatte in Suid-Afrika oor hierdie onderwerp gevoer word, en hoe kwaai die twee kampe van mekaar verskil. Soos genoem, wat my egter bly hinder, is die felheid van die beledigings en skeltaal wat gebruik word. Ek het verlede naweek op Facebook gekuier, was verstom oor die beledigings in sommige debatte, en het in die proses afgekom op ’n skryfsel van Dana Snyman, die bekende joernalis en skrywer, in ’n uitgawe van die Kerkbode verlede jaar, oor presies hierdie onderwerp. Ek deel dit met lesers van die Fever wat dit nog nie te siene gekry het nie:
“By wie sou ek dit die eerste keer gehoor het? Ek was nog ’n kind, dit weet ek. Op Daniëlskuil. Miskien het Pa of Ma dit vir my vertel: Dat as jy eendag doodgaan, gaan jou lewe voor jou verbyflits. Jy gaan weer alles sien en hoor wat jy op aarde gedoen het. Dit het my bang gemaak. Ek het my verbeel dit is soos wanneer ons na ’n fliek in die kerksaal kyk: “Afspraak in die Kalahari” of “Baaspatrolliekhond K9” – een van die flieks wat die mense van Carfo Films vir ons kom wys het. Of Nicky Cruz se “The Cross and the Switchblade”. Hierdie keer sal jy in so ’n saal sit, pas oorlede, en jy sal na jou eie lewe op die skerm kyk. Die Here sal saam met jou daar wees en Hy sal al die stoute en slegte dinge sien, al die sonde wat jy gedoen het. En jy sal hemel toe gestuur word, of hel toe waar jy vir ewig in ’n vuur sal brand. Daaraan dink ek soms wanneer ek op Facebook, koerante se webwerwe en ander plekke op die internet lees wat mense skryf en vir mekaar sê.
“Die Here bestaan nie, dit is wat op die bordjie staan van die plek waar mans hulle blaas gaan leegmaak,” sal een sommer in ’n Facebook-stryery oor godsdiens skryf. Of ’n ander een wat in ’n hitsige gesprek oor rassisme skryf: “Da is redes vir die k-woord gebruik. Hulle verdien dit kyk hoe maak hulle met dit wat verantwoordelik is. Duiwels se kinders. Veite.” Soms wil dit al lyk of daar ’n verband is tussen iemand se Goliat-agtige woede en hulle spelvermoë. Ook wat ék partykeer skryf laat my wonder of dit nie eerder ongesê moet bly nie. Hoekom moet ek sarkasties wees met iemand wat betower word deur daardie pastoor met die skreeustem wat ’n soort welvaartsgodsdiens verkondig? Lê die oordeel by my? Het daardie skerm waarop jou lewe afspeel wat ek my verbeel het, nie dalk op ’n manier ’n rekenaar- of jou selfoon se skerm geword nie? Hiér. Nóú. Dit wat ek daarop tik of vaslê, word deel van die film van my lewe. Soms letterlik: Hoeveel kameras is daar nie wat ons deesdae dophou nie, ons bewegings volg en elektronies opneem nie.
Hoop nie ek klink hooghartig nie, maar iemand, ’n man, wie se snedige haatlike aanmerkings en kommentaar wat ek soms op Facebook raakgelees het, is onlangs oorlede. En toe gaan kyk ek op sy Facebook-blad, en daar staan al sy woedende woorde. ’n Klein getuigskrif. Verander kan hy dit nie meer nie. Hoe het die Bybelse Jakobus dit nou weer gestel? “Die tong is ook ’n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so ’n plek onder ons lede in, dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand …” Geld dit nie ook vir wat jy op Facebook of elders oor die internet skryf nie? “Nobody needs a pulpit or a soapbox now,” skryf Marilynne Robinson. “Any one of us can bully and slander at will.”
Robinson verwys spesifiek na wat op die sogenaamde sosiale media gebeur. Party mense sê ander sleg en verkondig krom en liefdelose populistiese menings onder ’n skuilnaam, asof ’n mens onder ’n skuilnaam gaan sterf.
John Flavel, ’n 17de eeuse Engelse puritein, skryf Robinson, het gewonder of ’n mens nie twee keer geoordeel behoort te word word nie: “… once when we die and again when the full consequences of our lives have played themselves out … until no living mind remembers any slander, any injurious word that we have spoken.” Jou woorde agtervolg jou tot ná jou dood en daarna. Letterlik.”
Laat ’n mens dink, nê? Dankie, Dana.
HAVE YOUR SAY
