BlogsOpinion

Buurvrou ‘lol’ met hom: Man stamp kop stukkend

Later in die dag het aldrie van hulle besluit dat niemand ooit van die petalje moet hoor nie.

Vandeesweek het ek nie veel te rapporteer oor ons wel en weë in die Watergat nie, want vroulief en ek moes ’n familiebegrafnis op Newcastle bywoon en was drie dae nie hier nie. Met ons terugkeer het Oom Pottie ons ingelig dat alles doodnormaal verloop het, en dat die maand Februarie, soos gebruiklik, baie stil was wat. Ons gereelde besoekers het nog steeds opgedaag, wat soos hulle eweknieë in alle gewilde kuierplekke, elke dag op dieselfde tyd inkom en op dieselfde stoele gaan sit.
Hul mede-besoekers kom ook dieselfde ongeskrewe reël na, en daar is ’n natuurlike orde wat almal verstaan. Die gesprekke was, soos gewoonlik oor rugby en sport in die algemeen, veral krieket, die Amerikaanse politiek, soos gebruiklik die afgelope paar maande, en dan natuurlik gebeure in Suid-Afrika.

Daarom het ek besluit om vandeesweek se rubriek eerder te vul met ’n snaakse storie wat Oom Pottie gedurende die week by Jan Badenhorst van Carletonville en sy broer Piet gehoor het. Nie meer nuut nie, maar dit bly vir my baie, baie snaaks sedert ek dit die eerste keer in die sewentigerjare gehoor het. Toe dit vyftig jaar gelede die eerste keer bekend geword het, het die vertellers almal die versekering gegee dat dit werklik iewers aan die Wes-Rand in die ou Transvaal gebeur het.
Twee goeie vriende, Gert en Herklaas was buurmanne. Gert se motor het ’n meganiese probleem ontwikkel en hy het die domkrag gebruik om die voertuig op te lig, en onder in te skuif met sy moersleutelsen ander gereedskap om die fout te probeer opspoor en herstel.

Herklaas staan by die draadheining tussen die eiendomme en gesels met Gert oor ditjies en datjies, die huidige rugbywedstryde, en gee ook raad oor die herstelwerk waarmee Gert besig is.
Nà ’n half-uur of wat sê Gert hy moet gou toilet toe gaan, en vra Herklaas of hy sal omgee om onderwyl hy weg is, te kom seker maak dat die betrokke moersleutel nie loskom nie. Herklaas stem in, en skuif onder die motor in, met net sy twee bene wat uitsteek. Na ’n paar minute kom Gert se vrou Nita uit met ’n skinkbord met koekies en tee, wat sy op ’n tafeltjie neersit, na die motor toe loop, haar hand by die kortbroek insteek, Herklaas se manlikheid heen en weer skud en sê: ‘Tiengelieng, dis teetyd!’

Die arme Herklaas gil en stamp sy kop stukkend teen die motor se onderstel. Gert se vrou skrik haarself in ’n ander bloedgroep in en hardloop gillend by haar verbaasde man verby die huis in net toe hy by die deur uitkom. Gert het Herklaas uiteindelik onder die motor uitgesleep gekry, met ’n dop gelawe en dokter toe geneem vir steke in die bloeiende voorkopwond. Later in die dag het aldrie van hulle besluit dat niemand ooit van die petalje moet hoor nie.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button