Blogs

Antoine Dupont is wel die beste rugbyspeler ter wêreld

Die arme Walliesers het geen antwoord gehad vir die manne in donkerblou se kliniese, briljante spel, en veral dié van Antoine Dupont nie.

Nog ’n stil week agter die rug, en die meerderheid van ons klante het ’n sug van verligting geslaak dat Januarie agter die rug is. Soos een opgemerk het, ‘ons kan nou rustig die res van die jaar binnegaan’. Ek neem aan sy oortrokke rekening en kredietkaart ‘max’ is uitgesorteer. Soos die geval met baie Suid-Afrikaners. Ons hier in die Watergat moet ook na Kersfees mooi na ons finansies kyk, want sodra die Kersseisoen verby is, daal ons omset tot onder die gemiddelde, en moet ons in Desember reeds voorsiening maak vir die betaling van ons huur, salarisse en nuwe voorraad aan die einde van Januarie. Gelukkig doen ons dit nou reeds vele jare, en ken die slaggate.

Omdat ons relatief min besoekers die afgelope paar weke gehad het, was die gespreks-onderwerpe redelik min, maar die gebeure wat uiteenlopende menings uitgelok het, was die doen en late van President Trump van Amerika. Wat my laat besef het hy is seker die grootste verdelende faktor in Suid-Afrika die afgelope 20 jaar. In die besonder onder ons blanke, en veral die Afrikaanssprekende bevolking. Daar is geen middeweg met hom nie. Sy bewoneraars kan niks verkeerd sien in enigiets wat hy doen nie, en sy teenstanders kan nie genoeg veroordelende woorde vind om hom te berskryf nie. Pottie en ek het gesit en luister na van die gesprekke, en het besluit ons bly tjoepstil, want om hier kant te kies kan daartoe ly dat ons klandisie verloor. Wat ons wel moes doen, was om te vra dat die gesprekke gestaak word om te verhoed dat Bacchus uiteindelik die laaste woord inkry.

Ewenwel, die rugbygesprekke was hoofsaaklik oor die Sesnasies-reeks in Europa, en veral die vertoning van die Franse teen Wallis. Die arme Walliesers het geen antwoord gehad vir die manne in donkerblou se kliniese, briljante spel, en veral dié van Antoine Dupont nie. Ons het altyd gedink die verwysing na hom as die beste rugbyspeler ter wêreld, maar ek begin dink dis geregverdig. Hy is skitterend. Ons het lekker T20-krieket gekyk, was beïndruk met die nuwe ster, die 18-jarige Lhuan-dré Pretorius. Ongelooflike talent. Ons kriekettoekoms lyk blink met soveel ander spelers wat geskitter het. Dieselfde kan ongelukkig nie van nie van ons Durbanse span gesê word nie. Hulle het heeltemal uit die bus geval. Wat gaan aan met Quinton de Kock? Hy is nie ’n skadu van die speler wat hy eens was nie.
Aanstaande week praat ons rugby wanneer die kompetisies weer in volle swang is.
Ons loopstorie kom van Jannie Volschenk, ’n besoeker van Newcastle:
Die pastoor druk Meraai drie keer onder die water en na die derde keer sê hy: “Jy’s nou gedoop en van vandag af is jy ’n nuwe skepsel… die ou ene is weg. Geen alkohol meer oor jou lippe nie. So van vandag af is jy Maria.”
Later toe Maria by die huis kom, is sy reguit yskas toe. Sy haal ’n bottel yskoue wyn uit. Sy tap die wasbak vol water en druk die bottel drie keer onder die water en sê; “Djy is nou Oros!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button