Die Here se tyd is nie ons tyd nie
In 2 Petrus 3:8 staan daar dat by die Here een dag soos ’n duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.

Die dae geen so snel verby, lui die woorde van ’n bekende lied. Vir ander gaan die dae weer te stadig verby. In 2 Petrus 3:8 staan daar dat by die Here een dag soos ’n duisend jaar is en duisend jaar soos een dag. Die kerk wag al lank op die terugkeer van Jesus Christus om Sy kinders te kom haal soos Hy belowe het. Om te wag is seker een van die moeilikste dinge op aarde. Die tweede geslag Christene aan wie Petrus hierdie brief skrywe, was na omtrent veertig jaar al baie moeg gewag vir Jesus se terugkeer. Hoe maklik sal mense vandag nie moedeloos raak nie – mense wat al amper 2 000 jaar wag op die vervulling van die belofte van Jesus se terugkeer! Petrus verduidelik met twee redes waarom God nog nie Jesus se terugkeer laat plaasvind het nie.
Eerstens moet jy onthou dat God in die ewigheid woon. Die Here se tyd is nie ons tyd nie. Die ewigheid is nie tyd plus tyd plus tyd oneindig nie, maar is waarskynlik eerder die totale afwesigheid van tyd. Daarom is een dag in die ewigheid soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Psa 90:4 Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag. Jy moet jou dus in jou verwagtings van God nie laat bind aan die beperkings van menslike tydsbegrip nie. Die Here se tyd is nie ons tyd nie.
Tweedens leer God jou hier dat die lang tyd voordat die belofte van Jesus se terugkeer in vervulling gaan, genade tyd is! Elke dag is geleende tyd. God is geduldig met ons. Daarom moet die vinger nie verwytend op God gerig word nie, maar ondersoekend op die eie hart. God wil dat niemand verlore sal gaan nie, maar dat almal hulle moet bekeer . (Esg 18:23). Daarom laat Hy die evangelie aan almal verkondig en skenk Hy die ewige lewe aan dié wat glo (Joh 3:16; Rom 5:18; 1 Tm 2:4). Jesus kom weer. Wie in Hom glo en leef uit die geloof, gebruik die uitgestelde tyd om die Here en hul naaste te dien. Is dit ook waar van jou?
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram