Herken jy hierdie persoonlikheid?
Dis asof die aard van bv. Facebook mense laat dink enigiets is veroorloof, en gebruik hulle woorde wat hulle nooit durf doen indien dit in ‘n persoonlike kontaksituasie is nie.
Met al die gebeure sowel binne Suid-Afrika as op die internasionale toneel, is dit onvermydelik dat mense uiteenlopende menings daaroor sal hê. Hierdie menings is deesdae ook onmiddellik toeganklik vir ander mense weens die gevorderde sosiale media, en diegene wat daarvan verskil laat nie op hulle wag om hul eie sê te sê nie. Met die gevolg dat bekgevegte gereeld uitbreek waartydens mense mekaar slegsê, beledig en belaster.
Die uwe het geen probleem met meningsverskille nie, maar die manier waarop mense hulle in die proses gedra, is my grootste irritasie. Ook die taalgebruik. Dis asof die aard van bv. Facebook mense laat dink enigiets is veroorloof, en gebruik hulle woorde wat hulle nooit durf doen indien dit in ‘n persoonlike kontaksituasie is nie.
Die kersie op die koek is die eienaardige redenasies wat soms hoogty vier. Die uwe besef terdeë hy beweeg nou op dun ys want talle mense sal nie met my saamstem oor wat eienaardig is en wat nie. Die bekende en bekroonde Suid-Afrikaanse joernalis en skrywer, Dana Snyman, wat sonder twyfel een van die beste woordsmede in die land is, het onlangs ‘n artikel oor hierdie redenasies geskryf met die opskrif ‘HY’. Ek plaas dit hier vir diegene wat dit nog nie gelees het nie, met die wete dat dit virseker orkane van verontwaardiging by sommiges gaan veroorsaak. Ek stem volmondig met hom saam:
“Miskien ken jy hom ook. Sê jy vir hom die Russiese inval in Ukraïne is ’n tragedie en ’n verskrikking en Wladimir Poetin het te ver gegaan, sê hy vir jou hoekom het jy niks gesê toe die Navo-magte Kosovo ingeval het nie. Buitendien, Poetin staan op teen die nuwe wêreld-orde. Dis hoekom die Weste so teen hom is. Sê jy hom kinders en vroue en ander onskuldiges word in Ukraïne doodgemaak, vra hy jou of jy gesien het wat die Amerikaners alles in Irak gedoen het. As Donald Trump nog die president van Amerika was, sou Poetin nie sy magte opdrag gegee het om Ukraïne in te val nie. Sê jy vir hom jy dink Trump is ’n narsis wat net nie kan aanvaar hy het verlede jaar se presidentsverkiesing verloor nie, sê hy hoekom sê jy niks oor Cyril Ramaphosa, wat die ANC-afgevaardigdes moes omkoop om vir hom te stem nie. Jy kyk te veel CNN, dis hoekom jy nie van Trump hou nie.
Sê jy vir hom jy dink dis die regte ding om jou teen die Covid-19 virus te laat inent, sê hy vir jou dis tyd dat jy jou eie navorsing doen. Buitendien, die regering kan hom nie dwing om hom te laat inent nie. Hy staan op sy regte, sy individuele vryheid. Vra jy vir hom hoekom was hy vir soveel jare stil toe miljoene Suid-Afrikaners se individuele vryheid erg ingekort is, sê hy vir jou hoekom sê jy niks oor plaasmoorde nie. Dis tyd dat die regering die doodstraf terugbring. Sê jy vir hom om ’n bepaalde onderwerp oor en oor te google is nie navorsing nie, sê hy vir jou ’n mens kan die hoofstroommedia nie meer vertrou nie. Joernaliste sê of skryf wat die mediabase sê hulle moet sê of skryf. Hulle soek net sensasie. Sê jy vir hom Sharpeville, vra hy wat van Marikana. Sê jy vir hom Steve, vra hy wat van Rian. Sê jy vir hom jy dink Markus Jooste hoort in die tronk, vra hy wat van die Guptas? Hoekom is húlle nog nie in die tronk nie? Jooste het minstens nie uit die land gevlug nie.
Vra jy vir hom hoekom betaal hy nie sy spoedkaartjies nie, sê hy vir jou hoekom gaan vra jy nie eerder vir die ANC hoekom steel hulle die land bankrot nie? Kyk na al die wetteloosheid. Dis tyd dat lyfstraf teruggebring word in die skole. Sê jy vir hom maar wat van Matthéüs 22 vers 37, vra hy wat van Levítikus 18 vers 22. Vra jy vir hom hoekom het hy na oud-pres. FW de Klerk en aartsbiskop Desmond Tutu se dood sulke liederlike dinge oor hulle op Facebook geskryf, sê hy is moeg vir mense wat hom wil laat skuldig voel omdat hy wit is. Hy is moeg vir die linkses, die libtards wat dink hulle is beter as ander. Sê eerder iets oor Malema. Vra jy hom of hy weet wat is whataboutism, sê hy hy steur hom nie aan polities korrekte snert en wokeness nie. Moontlik het jy hom ook al teëgekom: Die hedendaagse Bart Nel, die man wat alles geword het wat hy nie is nie.”

