South Coast Fever

Stiltetyd: Jou identiteit

Paulus getuig egter dat daar iets gebeur het wat sy identiteit gevorm het.

Waarin setel jy jou identiteit as mens? Iemand het gesê dat jou identiteit is wie jy hier binne in jou diepste wese is. Mens se instinktiewe gevoel is om jou identiteit te koppel aan jou status, afkoms, prestasies (of prestasies van jou kinders), die sertifikate teen die muur en alles wat jy dalk of dalk nie in die lewe bereik het. Die algemene gevoel is dat iemand se identiteit gevorm word deur sy of haar gene of ervaring en blootstelling in die lewe. Jou identiteit word ook bepaal deur wat jy glo, met wie jy in interaksie is en wie jou beïnvloed.
Daar is ook mense wat hulself definieer kragtens die goeie dinge wat hulle doen, hetsy dit filantropie of goeie dade in die Christelike sin is. Soms beleef mense ’n identiteitskrisis wanneer hulle hulself begin bevraagteken. Dit kan verband hou met die rol wat hulle speel in die samelewing of gemeenskap. Dan is dit ook so dat by die oorgange van die lewe mense ’n identiteitskrisis kan beleef, soos byvoorbeeld wanneer die middeljare aanbreek of aftrede naderkom.

In die Bybel vind ons iemand wat vir ons vertel dat God sy identiteit verander het. Sy hele perspektief op die waarde van sy agtergrond en godsdiens het verander. Kortom, sy hele lewensuitkyk het verander. Nee, dit beteken nie dat hy ’n dubbele persoonlikheid gehad het nie. Ons kan slegs een identiteit hê. Paulus getuig egter dat daar iets gebeur het wat sy identiteit gevorm het. Hy vertel ons dat dit lê in die feit dat Christus Jesus hom Syne gemaak het. Ons lees daarvan in Filippense 3:7: “Alles wat vir my ’n wins was, beskou ek nou as ’n verlies ter wille van Christus.Op die balansstaat van Paulus se lewe het kulturele, sosiale en godsdienstige kwaliteite gestaan. Dit kon verlengstuk van sy identiteit wees, soos ons motors en huise en status vandag. Hy sê egter dat hy alles as waardeloos beskou het ten einde vir Christus te ken. Dit was alles vir hom ’n dooie verlies. Sy verhouding met Christus het sy waardes gekleur en gerig. Dit wat belangrik was, is bepaal en gevorm deur sy verhouding met Christus. Waarin lê jou identiteit?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button