South Coast Fever

Wouter se Watergat

Oor die jare heen, het mense die Cressida by hom probeer koop.

Oom Pottie en ek moes Johannesburg toe om sy suster in Ethekwini te help verhuis na ‘n kleiner blyplek. Al die pad soontoe met sy 1984-Toyota Cressida. Blinkrooi. Sonder ‘n skrapie. Oorspronklike verf. Sessilinder. Leersitplekke. Soos ‘n baba opgepas. Sowat 130 000 kilometer op die ‘klok’. Die slegte nuus is die koste van brandstof en tolgeld. Amper vyfduisend rand. Oor die jare heen, het mense die Cressida by hom probeer koop. Hy het net gesê ‘nee’. Uit en gedaan. Hierdie keer het hy soms lank gedink voordat hy ‘nee’ gesê het.

Omdat ons ‘n week lank nie by die Watergat was nie en vroulief die fort gehou het, weet ons nie wat daar gebeur het nie. Ek herhaal dus ‘n storie wat Pottie my op pad Johannesburg toe vertel het: Bul Steenkamp was van kleins af ‘n meneer. Binne tien jaar na matriek ‘n multi-miljoenêr. ‘n Sosiale siel soos min. Baie gemoedelik en vrygewig, maar hy het nie met hom laat speel nie. Sy bynaam vertel alles, behalwe dat die voorsetsel ‘stoet’ ook gepas sou wees. Op ‘n dag besluit hy hy het ‘n ‘trofeemeisie’ aan sy sy nodig. Bul bestel haar as’t ware uit Johannesburg se beste model-voorraad……..’gebou soos ‘n pou’. Bul was baie uithuisig weens sy sakebedrywighede, en Flaffie, soos hy haar genoem het, se hormone was, soos syne, ook nie lui nie.

Bul kom gou agter iemand anders wei in sy kamp. Hy laat bou ‘n wynkelder reg onder hul slaapkamer met ‘n swaar sluitdeur. Hy vertel Flaffie hy moet drie dae Durban toe gaan, waarna hulle die kelder sal inwy. Flaffie is in haar noppies. Bul se Bentley is skaars om die draai, toe bel sy die buurbul: ‘ons het die huis vir drie dae….kom sommer nou’. Twee straatblokke van sy huis af, sit Bul dertig minute in sy motor, draai om en ry terug. Daar staan ‘n flenter-duinebesie voor sy deur. Hy bel Flaffie: ‘liefie, my vergadering is uitgestel….sien jou nou-nou…ek het ‘n groot verrassing vir jou!’ ‘Gou….klim hier in’……doodsbleek skreeu-gil Flaffie. Die buurbul verdwyn holderstebolder die trappe af in die wynkelder in, poedelkaal. Flaffie sluk drie valiums, pluk haar hempie en jeans aan, en gaan sluit die voordeur oop. Bul staan daar, glimlaggend. ‘Kom ons gaan ry ‘n entjie. Jy sal nie glo wat ek beplan het nie.’

Bul gaan kamer toe, loer onder die bed, en sy vermoedens word bewaarheid toe hy die paar tekkies en klere sien. Hy sluit die swaar deur van die kelder, en sit die sleutel in sy sak. Flaffie voel naar, maar sy ‘hou haar pose’. ‘Kom, kom’……..trek Bul haar die Bentley in. ‘Wat nou?’ vra sy toe hulle by die hek uitry. ‘Jy wou mos altyd die Franse Riviera sien? Ons gaan soontoe. Ek het ons paspoorte’ ‘Ek het nie klere nie..’ stotter sy. ‘Geen probleem nie….ons koop alles……daar wag reeds ‘n tas vol vir jou op die lughawe,’ sê Bul. ‘Ons gaan drie weke saam, en onsself gate uit geniet. Is dit nie wonderlik nie?’ Flaffie haal skaars asem, wasbleek, en by die lughawe word sy flou, kop teen die venster. Bul glimlag selftevrede en knipoog vir homself in die truspieëltjie. Hy laat nie met hom speel nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button