STILTETYD: God is in beheer
Daagliks lees ons van onrus en woelinge op alle lewens terreine.
Waarom is daar soveel onrus in die wêreld? Waarom kan dinge nie maar kalm en rustig gaan nie? Daagliks lees ons van onrus en woelinge op alle lewens terreine. Onrus op politieke vlak: staatsgrepe; opstande; politieke geweld; ensovoorts. Onrus op ekonomiese vlak: rentekoerse wat styg; prysstygings; bankrotskappe. Onrus op sosiale vlak waar al meer verval na vore tree. Onrus op huislike vlak met toenemende spanning en verval, gesinsgeweld, egskeidings, ensovoorts. Waarom is die volke rusteloos en maak die nasies sinnelose planne? Waarom al hierdie onstuimigheid in die wêreld? Dit is ’n eeue oue vraag waarmee gelowiges deur die eeue geworstel het. Ons vind hierdie worsteling ook in die woorde van Psalm 2 in die Psalmbundel in die Bybel.
Die Psalm is waarskynlik destyds gesing tydens die troonbestyging van ’n nuwe koning. Die koning is gesien as God se verteenwoordiger. Gegewens uit dié Psalm dui daarop dat dié troonsbestyging plaasgevind het in ‘n tyd van woeling en bedreiging. Dit is duidelik dat daar woelinge was onder die volke wat onderworpe was aan Israel en wat die juk van die Israeliete wou afwerp en onafhanklik wou word. Ons sou dus kon praat van opstand en rebellie. Dit dui daarop dat Israel ‘n magsposisie beklee het en nie aan die ander volke onderworpe was nie.
Hier word eintlik so bietjie die spot gedryf met mense wat teen God se verteenwoordiger in opstand is. Ons lees dat die Here vir hulle lag. Met eerbied gesê, die Here glimlag as Hy die magsbeheptheid van die leiers wat tog so graag so groot wil wees, gadeslaan. Daar kom die punt dat dinge te ver gaan en dan tree die Here op. Natuurlik is tye nou anders maar die les is duidelik. Ons word soms op hol gejaag deur wêreldgebeure. Te midde van al die onrus en spanning hoef die gelowiges nie beangs te word nie. God is nog in beheer. Hy sien wat aangaan. Hy lag en spot met die onnosel gesmag na mag en eer. Hy is immers die groot Koning. Dit is die dat die Psalmis nie op hol gaan met alles nie. Uiteindelik spreek die groot Koning die laaste woord. Hierin vind hy en hopelik ook jy vrede.
