South Coast Fever

Wouter se Watergat

Wat nogal opmerklik is, van dieselfde mense wat Covid-skeptici is, is nie heeltemal teen President Putin van Rusland gekant nie.

Die hoofbesprekingspunt hier deesdae is die oorlog in die Oekraïne. Dis ‘n gewigtige onderwerp waaraan bloot geraak kan word in ‘n rubriek soos hierdie, maar omdat een van ons TV-stelle pal op een van die internasionale kanale is wat deurentyd nuus oor die oorlog uitsaai, is dit onvermydelik dat van ons besoekers ‘n ruk sit en kyk en dan kommentaar lewer. En ek moet verklaar, van die kommentare verbaas my.

Wat nogal opmerklik is, van dieselfde mense wat Covid-skeptici is, is nie heeltemal teen President Putin van Rusland gekant nie. Die stellings begin gereeld met die oorlog is verskriklik, die verlies aan menselewens is erg, maar Putin het nie’n ander uitweg gehad nie. Dan verwys hulle na die Russiese probleme met NAVO, beloftes wat nie nagekom is nie, geskiedkundige verskille tussen die twee lande, en hier en daar verklaar van hulle selfs dat Putin sy buurland nooit sou binnegeval het indien President Trump van Amerika nog aan die bewind was nie. Dit lei somtyds tot erge woordewisselings, wat ons diplomaties moet ontlont. Ewenwel, die Watergat se verenigde mening is Putin is ‘n oorlogsmisdadiger, en niks wat in die verlede gebeur het, regverdig wat hy gedoen het en nog steeds doen nie.

Aan die sportkant kyk ons nog lekker IPL-krieket, en raak ons alhoer meer oortuig daarvan minstens twee Suid-Afrikaanse spanne sal in die uitspeelwedstryde van die UIR-kompetisie speel. Behalwe die Lions, wat ‘also rans’ is, is die ander drie hoog op die puntelys. Ons hoop natuurlik die Sharks wen die kompetisie, maar dis nou heel duidelik totdat hulle ‘n wedstrydwenner op nommer 10-kry, gaan dit moeilik wees. Die Sharks koop mos lustig spelers –iewers is daar ‘n top-losskakel wat hulle kan afrokkel.

Ons loopstorie kom van Joos Heystek van Mbombela en handel oor ‘n pastoor wat besluit hy gaan preek oor ‘n onderwerp wat niemand in der ewigheid ooit sal vergeet nie: “Geagte broers en susters!!! Vandag wil ek met julle praat oor ‘n liggaamsdeel, ‘n baie, baie belangrike liggaamsdeel broer en susters! Daai liggaamsdeel wat broers en susters van mekaar skei!!! Dis daardie liggaamsdeel wat broers en susters van mekaar kan laat skei !!! Huwelike laat verbrokkel en verwoes! Dis daardie liggaamsdeel wat gesinne en families uitmekaar skeur so dat hulle vervreemd raak van mekaar!!! Dis daardie liggaamsdeel wat vrouens met vrouens laat baklei, broers met broers !!! Dis daardie liggaamsdeel wat partykeer meer buite is as wat hy binne is…. en dan ook meer binne is as buite!!! Broers en susters dit is daardie liggaamsdeel wat soveel pyn en ook soveel plesier kan bring!!!” Teen hierdie tyd is die gemeente tjoepstil. Selfs die babas in die moederskamer hou op huil. Die gemeentelede se oë is groot. Jy hoor net hier en daar ‘n geluidjie en in die verte ‘n lokomotief wat stadig wegtrek. Selfs die paaie om die kerk is doodstil. “Liewe broers en susters, hierdie belangrike, kontroversiële liggaamsdeel waaroor ek vandag met julle wil praat, is……die tong, liewe broers en susters. Die tong!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button