South Coast Fever

Wouter se Watergat

Die normale lekker weer in Meimaand het nogmaals gesorg dat daar heelwat binelandse besoekers by ons uitgekom het...

Die normale lekker weer in Meimaand het nogmaals gesorg dat daar heelwat binelandse besoekers by ons uitgekom het. Van die mense is al oor die tien jaar ‘Meimaandmense’, en feitlik sonder uitsondering kom hulle dieselfde dag of die dag waarna hulle hier aangekom het, hierheen om te kom te groet, en een van vroulief se gunstelingdisse te geniet. Toegegee, weens die afgelope jare se swak munisipale dienslewering, en veral die styging in die brandstofprys, het hul getalle afgeneem, maar ons is dankbaar vir die wat nog kom.

Gepraat van die brandstofprys. Hoe mense nog oor die weg kom, weet nugter. Johannesburg toe en terug, sonder die tolgeld van nagenoeg R500 in albei rigtings, in ‘n kleinerige motor, kos sowat R3 000 rand aan brandstof. Hoe die mense met die Land Cruisers en Range Rovers brandstof kan bekostig, weet nugter. Behalwe natuurlik as hulle welgesteld is. Teen 13 liter diesel per 100 kilometer, en dis konserwatief bereken indien hierdie voertuie vol mense en bagasie is, dalk ‘n waentjie sleep, is die 1,400 kilometer Johannesburg toe en terug ‘n finansiële nagmerrie. Dan praat ek nie eens van die reise tussen Johannesburg en Kaapstad nie. Sal graag wil weet hoe dit die verkope van groter voertuie beïnvloed het.

Ver der is daar nie veel te rapporteer nie, behalwe dieselfde afgesaagde gesprekke oor die Oekraïne, Covid en die swak ANC-regering. Sportgewys het ons lekker gekyk na die daaglikse IPL-krieket, wat nou effens afgesaag begin raak omdat dit so lank en uitgerek is, Europese tennistoernooie en dan die rugby. Ons hou nog steeds duimvas vir die Sharks in die internasionale kompetisie, en hoop die Cheetahs wen die Curriebeker. Topspan. Goed afgerig. In teenstelling met die Leeus. Jong span, Onervare. Sonder groot name. Swak afgerig.

Ons loopstorie kom van Janneman Visser van Roodepoort: Vier snydokters gesels om ‘n tafel. Nommer een sê hy opereer graag op boekhouers want hulle ingewande is almal genommer. Nommer twee opereer graag op elektrisiëns, want hulle organe is ‘kleurgekodeer’. Nommer drie sê dis maklik om op bibliotekaresses te opereer, al hul organe is alfabeties gerangskik. Nommer vier sê die heel maklikste operasie is op ‘n politikus, dis regtig kinderspeletjies: Hulle het geen ruggraat, geen brein, en geen hart nie. Jy kan selfs hul kop en agterent omruil en niemand sal iets agterkom nie.

Oom Pottie het hierdie stertjie ingeglip en ek hoop nie vroulief sien dit nie. Sy spesiale baksel appeltert sal daarmee heen wees. Hy sê wanneer mans dronk word praat hulle twak, raak vreeslik emosioneel, bestuur sleg en hou daarvan om vir geen rede te baklei nie. Hy haal sy hoed af vir vrouens. Hulle kry dit reg sonder om te drink!

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button