South Coast Fever

Stiltetyd Hoe begin jy die dag?

Begin jou dag met God.

Begin jou dag met God. Ek onthou dat ek jare gelede so ’n dagstukkie boek besit het. Die skrywer wou die belangrikheid beklemtoon daarvan om jou dag reg te begin. Ek weet nie hoeveel keer jy al met die verkeerde voet uit die bed gekom het nie. Dalk onthou jy eerder die kere wat jy met die regte voet uit die bed geklim het en dit is goed. Ek weet nie of dit verband hou met ’n ou bygeloof dat mens eerder met die regter as die linkervoet uit die bed moet klim nie. Natuurlik maak dit saak aan watter kant van die bed jy slaap. Die uitdrukking beteken egter dat jy die dag op ’n slegte voet of noot kan begin, dalk met ’n slegte bui of omdat jy nie kans sien vir die dag wat voorlê nie. In Psalm 5:2-5 bid die Psalmis so: ”Luister tog na my woorde, Here; hoor my versugting. Slaan tog ag op my noodkreet, my Koning en my God, want tot U bid ek. Here, in die oggend hoor u my stem, in die oggend lê ek my saak voor U en wag.”

Waarskynlik verwys die Psalmis se gebed na die oggendgebed in die Tempelgodsdiens van Israel destyds. Hoe ook al, dit spreek van ’n verwagting dat die Here die bidder genadig sal wees en sal voorsien vir die uitdagings van die dag wat voorlê. Daar is ook ’n element van wag, van rustigheid en nie oorhaastigheid om sommer die dag in te storm nie. Hoeveel behoefte het gelowiges nie om vandag ook hierdie soort ingesteldheid te handhaaf en te koester nie? Dikwels pak ons die dag aan sonder om net vir ’n paar oomblikke ons afhanklikheid van God te bely. Sonder om te besef dat ons die leiding van die Goeie Herder nodig het wat by die kruis Sy lewe vir ons afgelê het. Dalk kan ons leer om vandag en elke dag te begin met hierdie kort gebed wat ook die einde van Psalm 5 kenmerk en so ’n bietjie geparafraseer is: “Omring my met die skild van U welwillendheid vandag, Here.” Klim so met die regte voet uit die bed, vol welwillendheid ook teenoor ander.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button